Geskryf deur: Milan Potgieter 5 min

Ons gesels met Boetie- Rugbyafrigter

Ons gesels vandag met oom Boetie, een van die Ranties se voortreflike rugbyafrigters wat met passie en toewyding sy kennis en liefde vir die spel met ons spelers deel.

Hoe lank is Oom al ’n rugbyafrigter?
Ek is nou al 15 jaar betrokke by rugbyafrigting. Dit het begin omdat ek ’n liefde vir die sport het, maar nog meer omdat ek daarvan hou om met jong mense te werk en hulle te help groei – nie net as spelers nie, maar ook as mense.

Wat het Oom geïnspireer om ’n afrigter te word?
My passie vir rugby en my liefde vir kinders het my geïnspireer. Ek glo ook dat God vir elkeen van ons ’n roeping gee om ’n verskil te maak. Vir my is afrigting ’n manier om kinders te help om dissipline, respek en geloof te leer.

Watter spanne rig Oom op die oomblik af?
Randhart se o. 11’s. Ek het ook ’n 7’s akademie waar ek o. 11-, o. 12-, o. 13-, o. 15- en o. 17-spelers afrig.

Watter eienskappe maak volgens Oom ’n goeie rugbyspeler?
Respek, harde werk, dissipline, spanwerk en ’n goeie houding. Talent help, maar karakter en deursettingsvermoë maak uiteindelik die grootste verskil.

Wat is die belangrikste ding wat jong spelers volgens Oom moet leer?
Dat rugby ’n spansport is. Niemand wen alleen nie. En dat jou karakter belangriker is as die telling op die telbord.

Hoe motiveer Oom die span wanneer hulle agter is op die telbord?
Ek herinner hulle dat ons nooit opgee nie. Ons speel met hart en vir mekaar. Ek sê ook altyd: doen jou beste en vertrou op God vir die res.

Wat is volgens Oom die grootste fout wat jong rugbyspelers maak?
Hulle probeer soms alles alleen doen in plaas daarvan om die span te vertrou en saam te werk.

Hoe bou Oom spanwerk tussen spelers?
Deur hulle te leer om mekaar te respekteer, mekaar op te bou en altyd vir mekaar te speel. ’n Span wat mekaar vertrou, speel altyd beter.

Wat is vir Oom die moeilikste deel van afrigting?
Om seker te maak elke kind kry ’n kans om te groei en selfvertroue te bou, selfs wanneer dinge nie altyd maklik is nie.

Watter oefeninge glo Oom help spelers om vinniger en sterker te word?
Basiese fiksheidsoefeninge soos sprintwerk, kragoefeninge, vaardigheidsoefeninge met die bal en baie herhaling van die basiese rugbyvaardighede.

Wie is Oom se gunstelingrugbyspeler en hoekom?
My gunstelingrugbyspelers is my eie twee seuns.

Wat is Oom se beste raad aan jong spelers wat eendag professioneel wil rugby speel?
Werk hard, wees gedissiplineerd en onthou altyd waar jou waardes lê. Rugby kan groot dinge bring, maar jou geloof en karakter moet altyd eerste kom.

Was daar al enige snaakse of spesiale oomblikke tydens Oom se rugbyloopbaan?
Een van die spesiaalste oomblikke was toe my o. 17-span ’n toernooi gewen het en toe besluit het om die beker vir die ander span te gee. Hulle het gesê hulle speel nie vir bekers nie, maar vir God se Koninkryk. Nog ’n spesiale oomblik was toe my eie seun by daardie selfde toernooi ’n getuienis gedeel het in die laaste wedstryd wat hy vir my gespeel het. Hy het gesê as daar een ding is wat hy uit rugby geleer het, is dit dat ’n mens nie skatte op die aarde bymekaarmaak nie, maar skatte in die hemel.

Wat beteken rugby vir Oom persoonlik?
Vir my is rugby meer as net ’n sport. Dit is ’n geleentheid om jong mense te help groei, karakter te bou en te leer dat Jesus altyd nommer een in ons lewens moet wees.

Het Oom self ook rugby gespeel? Watter posisie het Oom gespeel?
Ja, ek het deur die jare verskeie posisies gespeel, maar het meestal as ’n slot of flank gespeel.

Wat is Oom se droom en doel vir Oom se span hierdie seisoen?
My grootste droom is nie net om wedstryde te wen nie, maar om spelers te sien groei in karakter, respek en geloof. As hulle die veld verlaat as beter mense as wat hulle opgedraf het, dan was die seisoen ’n sukses. 

© Kopiereg 2025 #Rantiesnuus. Alle regte voorbehou.