Geskryf deur: Marichke Pucjlowski 6 min

Om appeltjies te skil…

Wie het nou gedink appeltjie skil kan so gekompliseerd wees? Van skil tot eet tot appeltjies deel, kom die realiteit dat dit toe eintlik nie so lekker en eenvoudig of lekker is soos appeltjie skil en eet nie, maar eerder so bietjie van ‘n ongemaklike saak is wat bespreek moet word.

Daai appeltjie het alles te doen met hoe ‘n onderwyser in ‘n ouer se goeie boekie kan kom en so ook hoe ‘n ouer weer in ‘n onderwyser se goeie boekie kan kom.

Maar toemaar, dit is toe glad nie so ernstig en gekompliseerd nie. Hierdie appeltjie skil was lekker, interessant en almal kan ‘n paar dinge leer van wat onder daai skil van die appel lê.

Hierdie joernalis laat nie op haar wag nie, want die is mos nou ‘n saak wat bespreek moet word. Ek wou graag altwee kante van hierdie appel hoor. Wat hulle te sê het en watter opinies, raad en wenke hulle wil uitdeel van die een kant na die ander kant van hierdie appel.

Ek het sommer orals op die skoolgronde ouers raakgeloop wat graag hulle goeie raad en wenke wou deel oor hoe onderwysers in ouers se goeie boekies kan kom:

• Ek het sommer eerste vir een van die Graad 1-mammas, wat nou onlangs die Randhart-paadjie begin stap het, vir haar insette gevra. Daar was so baie mammas voor daai graad 1-hek dat dit glad nie ‘n probleem was om iemand te kry om bietjie vir my oor hierdie appeltjie geskillery te vertel nie.
Hierdie mamma sê sy vertrou haar kosbaarste besitting aan onderwysers toe en hoop hulle sal haar bloedjie met dieselfde liefde en geduld help groot maak.

• Een pappa wat daar rondstaan gee toe ewe gretig ook sy kommentaar. “Onderwysers moet streng wees, sonder om onredelik te wees.”

• Ek besluit toe dis dalk ‘n goeie idee om ‘n graad 7-ouer te vra wat al lankal die pad by Randhart stap en wie se tyd met laerskool amper verby is. Die mamma sê Randhart en sy onderwysers was net goed vir haar en haar kinders, maar wil graag die onderwysers daaraan herinner dat hulle help om die toekomstige leiers van ons land op te lei en te vorm – dis een van die heel belangrikste take wat daar is. Hulle moet hierdie taak aanpak met groot sorg en met die Here en God se Woord as riglyn.

• Een van die oumas wat by die snoepie wag terwyl haar kleindogter netbal oefen, voel weer: ”Kommunikasie tussen onderwysers en ouers is belangrik en kan baie frustrasies oplos”.

• Laaste klop ek by ‘n maatjie se mamma aan wat ook ‘n juffrou by ‘n skool is en haar raad: “Kinders spandeer meer tyd by die skool as by die huis. Wees dus die onderwyser wat ‘n kind laat voel of hulle belangrik is ongeag hul akademiese- of sportprestasies.”

Dis tyd om met die onderwysers te gaan appeltjie skil. Soos ek gesels of opinies vra, is die algemene gevoel dat dit die Rantie-onderwysers se wense is om ‘n lekker en suksesvolle pad met elke Rantie-kind en -ouer te stap.

Hulle deel ook graag goeie raad en wenke oor hoe ouers ook dan in hulle goeie boekies kan kom:

• Een wenk wat oral navore gekom het, soos ek vrae gevra het, is dat ouers asseblief nie sleg van onderwysers voor kinders moet praat nie. Dit veroorsaak dat kinders geen respek vir onderwysers het nie.

• Ek besluit dis ‘n goeie idee om bietjie van ‘n hoërskoolonderwyseres te hoor hoe sy appeltjie skil. Sy vra ouers om asseblief te sorg dat kinders hulle kant bring. “Ouers, leer julle kinders om hard te werk, altyd hulle beste te gee en meer te lees!”

• Mnr. De Ru vra die ouers om eers die onderwyser se kant te vat as hulle kind stories huis toe bring.

• Volgens mnr. Steyn, as kinders by die huis kom met klagtes, moet ouers eerder met die onderwyser self praat voor hulle bloot ‘n klagte skool toe stuur. Hy dink dis ‘n goeie idee dat ouers gereeld navraag oor ‘n kind se gedrag doen en hoe dit met jou kind by die skool gaan.

• Juffrou Weinrich sê: “Het jy geweet dat julle reeds in ons goeie boekies is die dag wat julle kind in die skool instap? Al wat ons vra is… belangstelling in JOU kind.
As ons met jou praat oor jou kind is dit nie om iemand aan te val nie. Dit is om hulle saam met jou te help. Moenie fout vind met elke ding wat ons sê of doen nie. Ons is immers aan jou en jou kind se kant.
En... nou en dan 'n dankie! Dit verrig wondere!”

• Juffrou Botha voel wedersydse respek en vertroue is belangrik. Goed opgevoede kinders maak alles soveel makliker. En natuurlik biltong kan enige verhouding ‘n hupstoot gee!
Dis nou goeie raad daai, Juffrou!

Die appeltjie is geskil en bespreek en dis vir seker so dat albei kante, die skil en die appel self jou laat besef dat almal as ‘n span in vrede en sonder drama wil saamwerk, want vir almal is die Rantie-kinders se toekoms die heel belangrikste.

Dankie vir almal se goeie raad en wenke!

Kan ons nou eerder oor waatlemoen praat?

© Kopiereg 2025 #Rantiesnuus. Alle regte voorbehou.