Met groot opgewondenheid het nog ‘n atletiekseisoen weggespring. Nee wag, hy hardloop al lankal reeds weg met ons! Die Ranties se tweede vriendskaplike byeenkoms het op 18 Oktober plaasgevind en ons atlete moes hard teen Laerskool Baanbreker vastrap.
Elke byeenkoms, hetsy dit vriendskaplik of kompeterend is, bied aan ons atlete die kans om hul drome na te streef. Deursettingsvermoë is maar net die wegspringblok van enige atleet om sukses te bereik. Vir die atlete wat regdeur die jaar oefen, moet hulle soms oor baie hoë hekkies struikel om tot by die regte vlak van fiksheid en vaardigheid te ontwikkel. Dit is wanneer hulle by hul wegspringpunt staan, met die eindstreep voor hulle of die spies of gewig in hul hand, wat hul drome eers ‘n moontlikheid word. Daarna het hulle slegs ‘n paar sekondes om ‘n hele jaar se voorbereiding in te span om hul droom te bewaarheid.
Gelukkig is die Ranties dromers. Ha, ha, ha, nee, dis nie die “verstrooide professor” soort dromers nie, maar jong mense wat vooruit kyk na die toekoms en deur inspanning groot hoogtes bereik.
Hierdie vriendskaplike byeenkomste is opwarmingsessies vir daardie finale wegspring soos die Super 12-byeenkoms, asook die Alberton-, Distrik- en Gautengkampioenskappe. Vir dié wie se drome uit hul nate bars, gooi hulle hul gewig tot by die SA-kampioenskappe.
Met ‘n seëvierende wen teen Baanbreker, staan die baan (en veld) oop vir ons atlete om hul drome te gaan nastreef.