Spreuke 9:10 sê dat wysheid met die dien van die Here begin. Vandag, nog meer as ooit van te vore, lui die skrif vir my waar.
Ons as jongmense word daagliks blootgestel en gekonfronteer met sosiale media en fopnuus wat vir ons wil kom sê wie en wat ons moet wees. Baie jongmense voel net nie meer goed genoeg nie, nie slim genoeg nie, nie mooi genoeg nie, nie maer genoeg nie en die lys gaan aan. Maar ek sê: Genoeg is genoeg! Kom ons keer terug na die waarheid van die Woord en wat God oor ons sê.
Jy is geliefd
“God het die wêreld so lief gehad…”
Johannes 3:16
Jy is nie alleen nie
“Ek sal jou nie los nie. Ek sal jou nie in die steek laat nie.”
Hebreërs 13:5
Jy is waardevol
“Selfs die hare op julle koppe is almal getel.”
Lukas 12:7
Jy is uniek gemaak
“Want U het my op ‘n wonderbaarlike wyse geskep.”
Psalm 139:14
So kan ek aangaan en versie vir versie aanhaal wat God se woord oor jou sê.
Ek wil jou vandag uitdaag: Sit jou foon neer, skakel die TV af en “pause” jou rekenaarspeletjies – delf dieper in die wyshede van die Woord en ontdek weer jou ware identiteit.
Jy is GENOEG!