Geskryf deur: Ruvan Anderson 4 min

Die wêreld op kniehoogte:
Hoe kleuters dink… en hoekom grootmense dit nooit sal verstaan nie

As jy wil weet hoe die wêreld regtig lyk vanuit ’n kleuter se perspektief, moet jy net vir ’n rukkie op jou knieë gaan sit. Ek weet vir party grootmense kan dit dalk ’n rukkie vat om tot daar onder te kom… en dan dalk weer ’n bietjie langer om op te staan! Maar glo my, dit is die moeite werd – want dit is die kniehoogte-uitkyk!

Vir kleuters is alles groter, harder en BAIE, BAIE meer verdag.

Stoele is glad nie gemaak om net op te sit nie – dis eintlik berge om te klim en dan dramaties van af te spring soos ’n superheld. Tafels is die fondasies vir die laken- en kombershuisies wat jou beskerm teen die monsters wat in die nag rondsluip. En die stofsuier? Dis glad nie ’n skoonmaakding nie. Dis eintlik ’n honger, wilde dier wat wag vir die perfekte oomblik om al jou Lego-blokkies op te eet!

Kleuters dink ook grootmense is partykeer bietjie vreemd. (Oukei, baie vreemd!)

Hoekom mag grootmense koffie drink, maar kinders nie? Dis tog net warm modderwater! En hoekom sê Mamma: “Ons ry nou-nou,” maar “nou-nou” beteken eintlik BAIE, BAIE later?

Met my besoek aan ons Rakkertjies het ek nog ’n paar snaakse dinge ontdek wat kleuters glo:

• As jy jou oë toemaak, kan niemand jou sien nie. Probleem opgelos! (Dit klink vir my na ’n goeie plan vir wanneer huiswerk ingehandig moet word…)
• As jy hard genoeg huil, verander “nee” soms in “okay’’. (Maar ongelukkig werk dit nie meer as jy ouer word nie.)
• Dat as hulle baie vinnig hardloop of spring, hulle dalk kan vlieg.
• Vir kleuters is reën nie nat nie – dis gratis speelwater!
• Modder is nie vuil nie – dis die natuur se gratis “spa-sessie”.
• En tyd? Vyf minute wag is langer as ‘n hele wiskundeles!

So ja, die wêreld op kniehoogte is eintlik ’n plek vol wonder, avontuur en baie fantasie.

En grootmenses met al hulle feite en reëls sal dit nooit verstaan nie…

Miskien moet grootmense, wanneer die wêreld se probleme te groot voel, net weer ’n rukkie afbuk… en deur die oë van ’n kleuter kyk. Want daar onder onthou ’n mens weer hoe lekker dit is om te lag, te speel en ’n bietjie simpel te wees. 

© Kopiereg 2025 #Rantiesnuus. Alle regte voorbehou.