Geskryf deur: Olivia Ford 4 min

Dis 'n kuns om op die verhoog te kan staan!

Om op die verhoog op te tree, is glad nie ‘n grappie nie. Dit verg moeite, inspanning en baie selfvertroue!

Om op die verhoog te kan optree is wérklik ‘n kuns! Jy moet voor baie mense kan optree, sonder om van jouself ‘n gek te maak. As jy ‘n gedig voordra, moet jy seker maak dat jy die regte betekenis daarvan aan die gehoor oordra... Baie akteurs tree op die verhoog op vir ‘n lewe. Dit verg seker nóg meer inspanning om in films en produksies soos bv. Jou Romeo en 7de Laan te speel. Hulle moet al die woorde van die karakter onthou wat hul in die film of verhoogproduksie vertolk. Daar is ook komediante wat hulle lewe lank grappe maak vir ‘n applous van die gehoor of kykers.

Die bekende aktrise wat in 7de Laan gespeel het en ook in Suidooster speel, Annelisa Weiland, sê: “Die verhoog toets jou en daar is nie ruimte vir foute nie.” Dit is beslis waar, want regisseurs vereis altyd ‘n vloeiende opvoering sonder foute.

Om op die verhoog op te tree kan ook soms gevaarlik wees, omdat mens moontlik baie erge beserings kan opdoen. In 1989 het Gaynor Young BAIE ernstige beserings opgedoen. Sy het tydens ‘n optrede in die Staatsteater 18 meter (5 verdiepings) van die verhoog se onbeveiligde hysbakskag afgeval! Dit het tydens ‘n optrede van Camalot gebeur. Sy het vir 7 weke lank in ‘n koma in intensiewe sorg gelê en was eers verlam en doof a.g.v. die ongeluk! Intussen het sy merkwaardig herstel. Tans het sy slegs een arm wat nie beweging het nie en haar spraak is nog erg aangetas. Gelukkig kon sy deur kogleêre gehooraparate haar gehoor verbeter.

Olivia Rodrigo het ook ‘n noue ontkoming gehad tydens ‘n vertoning in Oktober 2024 in Melbourne, Australië. Sy was onbewus van ‘n opening op die verhoog en het daarin geval toe sy oor die verhoog hardloop. Gelukkig het sy nie ernstig seergekry nie en kon met die vertoning aangaan.

Om op die verhoog op te tree is definitief ‘n aangebore kuns wat ook baie ure se voorbereiding verg! Ek haal my hoed af vir elkeen wat dit aanpak! 

© Kopiereg 2025 #Rantiesnuus. Alle regte voorbehou.