Die hele Randhart was vreeslik opgewonde oor die graad 7’s se Entrepreneursdag. Die graad 7’s het die hele skool in ’n plakkaat-Kersfeesboom verander om hulle stalletjie te adverteer.
Speletjies, peuselhappies en koeldrank is maar van die paar goed wat ons kon verwag en al die Ranties het hulle ma’s en pa’s vertel dat hulle BAIE geld skool toe moet vat! Natuurlik is die eerste ding wat BAIE ouers gesê het: “Geld groei nie op my rug nie...” Wel, hulle is reg; ek het nog nie een ouer by ons skool gesien met ‘n rug vol geld nie en toe moes ek gaan google wat dit nou eintlik beteken. Ek kry my antwoord toe op Die Afrikaanse Forum wat sê dit beteken: “Ek is nie ryk nie.” Natuurlik moes die graad 7’s die alombekende sê-ding van die ouers onthou toe hulle vir Entrepreneursdag beplan het om seker te maak dat die geld wat die ouers vir die kinders gee by hulle stalletjie spandeer word.
Ek het so ‘n paar graad 7’s gaan vra hoe hulle hul begroting fyn beplan het vir hierdie jaar se Entrepreneursdag en was nogal verbaas om te hoor dat die graad 7’s al baie weke aan hierdie dag beplan. Die graad 7’s het my vertel dat hulle die hele tyd moes onthou dat hulle nie meer geld in die stalletjie moes insit as wat hulle moontlik sal kan uitkry nie! Dit klink nogal moeilik! Hulle het ook aan my vertel dat hulle oral rond moes gaan soek vir ‘n bekostigbare voorsiener van hulle produk, sodat hulle die meeste geld kon maak uit wat hulle by hulle stalletjie wou doen. Die algehele gevoel van die graad 7’s was dat as jy nie beplan nie, sal jy vir seker jouself in die moeilikheid kry – so BEPLAN, BEPLAN, BEPLAN!
Dit sit my toe aan die dink. Hoe kies hulle wat hulle wil verkoop en natuurlik het ek maar weer vir die graad 7’s gaan vra.
Die graad 7’s vertel my dat hulle gaan kyk het wat in die ‘mode’ is en met die rugbywêreldbeker wat nou aan die gang is, was dit in sommige van hulle se agterkoppe. Hulle moes gaan ondersoek instel oor wat kinders lok en ‘in’ is en van hulle het selfs vraelyste uitgegee om dit te bepaal. Op die vraelyste het baie interessante, onverwagte antwoorde opgeduik wat hulle verbaas het. Lyk my dit is nogal belangrik om met jou klante te praat voor jy iets wil verkoop.
Met mammas en pappas wat nie geld het wat op hulle rûe groei nie, het van die graad 7’s my vertel dat hulle moes seker maak dat hulle stalletjie bekostigbaar is. “Ken jou mark,” sê die graad 7’s.
Wat ‘n brilljante manier om ons Ranties reg te kry vir die groot wêreld en dít op ‘n manier waarop almal dit kan geniet!