Nadat die graad 6-skooltoer die vorige twee jaar deur Covid gepootjie is, was dit vanjaar vir die graad 6'e ’n groot voorreg om op 'n toer na die Blyde Avontuur Kampterrein te gaan. Hulle het Maandagoggend 26 September reeds douvoordag vertrek op 'n toer wat hul vir ewig sal bybly.
Die leerders moes elke oggend reeds vroeg opstaan om reg te maak vir 'n bedrywige dag. Hulle het elke dag aan verskeie opwindende aktiwiteite deelgeneem en baie nuwe dinge geleer. Uitstappies het besoeke aan die Birds of Prey-rehabilitasiesentrum in Dullstroom en die Kamaii Reptiel Park ingesluit. Vele van die aktiwiteite het op die Blyderivier self plaasgevind soos 'n ooplugbootrit, besoek aan die watervalle en 'n ontspanne swem in die rivier. Die riviervlotvaart (river rafting) was vir sommige die avontuur van hul lewe en vir ander weer iets wat hul nie sommer gou weer sal aanpak nie. Ten laaste was daar ook die uitdagende, dog prettige river crossing waar party leerders die wêreld uit 'n onderstebo perspektief beskou het en die toeskouers aan die rivierwal laat skaterlag het.
By die kampterrein self was daar ook vele aktiwiteite wat gefokus het op spanbou, soos lanternbekruip, potjiekoskompetisie, hindernisbaan en verfbal (paintball). Hulle het een aand ook in die bos uitgeslaap waar die leerders die aandlug gevul het met die sing van liedjies en die geur van malvalekkers wat op die kampvuur gebraai is.
Vir elke leerder was daar definitief meer as een toerhoogtepunt, maar ieder en elk het dit vir seker geniet. Die onderwysers wat saam gaan toer het, het definitief net soveel pret gehad. Veral dié wat sáám met die leerders aan die river crossing en hindernisbaan deelgeneem het.
Met enige toer is ’n mens maar bekommerd. Gaan die kos smaaklik wees? Gaan die slaapplek gemaklik wees? Gaan die aktiwiteite pret wees? Op hierdie graad 6-toer kon elke leerder terugkom met net positiewe terugvoer oor die kamp.
Mag volgende jaar se graad 6'e dieselfde voorreg ervaar as die graad 6-groep van 2022.