Kan julle onthou wat ons Paasnaweek gevier het? Ja - Jesus het aan die kruis vir ons sondes gesterf en op die derde dag het Hy opgestaan uit die dood. Daar is nog ’n baie spesiale dag en dit is Hemelvaartdag. Hemelvaart gebeur 40 dae na Paasfees. Vir 40 dae nadat Jesus uit die dood opgestaan het, het Hy aan Sy vriende verskyn en met hulle gesels. Maar Jesus moes teruggaan om op die belangrikste plek in die hemel langs God te gaan sit.
In Handelinge 1: 1-11 lees ons dat Jesus die Seun van God is. Hy is almagtig. Satan kon Hom nie oorwin nie. Die dood kon Hom nie in die graf hou nie. Hy het uit die graf opgestaan. Die dissipels was baie bly om Jesus weer te sien. Hy het baie met hulle gepraat. Hy het vir hulle van die liefde van God die Vader vertel. Op ‘n dag sê Hy vir hulle: “Nou moet Ek na my Vader teruggaan. Maar julle sal nie alleen wees nie. Die Heilige Gees sal in julle kom bly. Hy sal julle leer wat om te sê en wat om te doen. Maar julle moet eers ‘n rukkie in Jerusalem wag. God sal die Heilige Gees na julle toe stuur. Dan moet julle vir die mense vertel Ek is die Verlosser van sonde.” Nadat Jesus dit gesê het, gaan Hy en Sy dissipels na die Olyfberg. Op die berg gaan staan hulle. Jesus kyk vriendelik na Sy dissipels en sê: “Dit is nou tyd vir My om hemel toe te gaan.” Net toe Jesus dit gesê het, kom daar ‘n wolk en Jesus gaan daarin hemel toe. Die dissipels kyk en kyk. Hulle kan Jesus glad nie meer sien nie. Skielik kom daar twee engele. Hulle sê vir die dissipels: “Waarom staan julle so en kyk? Jesus het na die hemel gegaan, maar eendag sal Hy weer kom.”
Jesus het vir Sy vriende daar op die berg en ook vir ons wat Sy kinders is ‘n groot werk gegee. Hy het gesê dat ons vir ander moet vertel van Hom. By die skool, by die huis, vir jou vriende en familie en sommer vir almal. Ons moet net so opgewonde wees om oor Jesus te praat met ander soos wat ons elke aand is om te praat oor ons goeie nuus of dit waarna ons uitsien.
Ek daag jou uit om vir ’n maatjie of iemand wat jy kan sien Jesus se liefde nodig het te gaan vertel van Jesus. Dis belangrik vir almal om te weet dat Jesus lewe, Jesus kom weer en Jesus het ons almal baie lief. Ek hoop elkeen van die Rantie-familie WEET dit. Jy hoef nooit weer alleen te voel of te voel jy is nie goed genoeg nie. Jesus lewe en hy ken elkeen van ons op die naam. Hy weet reeds wat elkeen van ons dink en wat elkeen van ons nodig het.