Geskryf deur: Ané Potgieter 1 min

'n Goeie dag vir… lag!

Een van Suid-Afrika se mees gesogte skrywers het by die Ranties kom kuier om vir ons leerders meer oor literatuur te leer. Jaco Jacobs is veral bekend vir sy snaakse stories, maar die genres waarin hy skryf strek van kinderliteratuur en rympies tot feiteboeke. Hy vertel dat hy dit van jongs af geniet het om mense te laat lag; daarom is vele van sy boeke humoristies.

Jaco het reeds op sewejarige ouderdom stories en rympies begin uitdink en gedurende sy hoërskooljare aan skryfkompetisies begin deelneem. Sy eerste gepubliseerde boek was Troetelgedrog, in 2001. In 2002 is sy boek, Pretpark, gepubliseer, wat hy eintlik reeds in sy matriekjaar voltooi het. Die boek wat hom die bekendste gemaak het, is 'n Goeie dag vir boomklim. Hierdie boek is die boek wat die meeste oorvertaal is in o.a. Nederlands, Italiaans, Sloeweens en Engels en wat dus die meeste lesers bereik het.

Boekskrywers kry vele male "skrywersblok", maar wanneer Jaco nie weet waaroor om te skryf nie, dan let hy net op na die dinge wat rondom hom aangaan, gaan sit langs sy swembad of gaan draf lang ente en dan begin hy allerhande gedagtes neerskryf waarna hy met nuwe idees opkom. Daar duik gereeld nuwe uitdagings vir Jaco op om oor te skryf.

Jaco was van kleins af versot op boeke en dink dat om boeke te skryf die beste werk op aarde is. Met 226 titels agter sy naam, is hy 'n voorbeeld vir enige jongmens om altyd jou drome na te volg, want dit sal vir seker na sukses lei. 

© Kopiereg 2025 #Rantiesnuus. Alle regte voorbehou.