Juffrou Richards hardloop dat die stof staan!

Veels geluk Tannie Anzél!
May 21, 2022
Gesond
May 26, 2022

Juffrou Richards hardloop dat die stof staan!

Geskryf deur: Jané du Preez

Wanneer was die SA’s?

Die SA’s was van 21 tot 23 April in die Kaap by die Groenpuntstadion.

Hoe het Juffrou gevoel om Groenpunt toe te gaan?

Ek was só opgewonde.  Ek kon eerlikwaar nie glo dat ek na ‘n baba weer so goed sou hardloop nie.  Dit was ‘n voorreg.

Het Juffrou darem tyd gekry vir ’n uitstappie terwyl Juffrou daar was?

Ons was Tafelberg toe en het lekker daar gaan uiteet.  Ons het ook ‘n draai by ‘n klompie wynplase gemaak… (Om natuurlik die proses waar te neem.)

Vertel ons van die wedloop?

Dit was hard!  My kop was oral.  Ek het in die heel buitenste baan begin en moes baklei vir ‘n posisie.  Die laaste 150m het my bene gebrand en die wind was vreeslik sterk.

Hoe het Juffrou voor die wedloop gevoel?

Ek was vreeslik op my senuwees, veral as mens langs Caster Semenya opwarm.  Ek was vreeslik bang dat ek iemand sou teleurstel.  Ek wou net goed doen.

Hoe het Juffrou na die wedloop gevoel?

Gemengde gevoelens.  Dit was nie my beste tyd of wedloop nie, maar ek het dit geniet.  Dit was ‘n groot voorreg om saam met die jonges te hardloop.  Ek was die oudste in die wedloop en ook die enigste een wat onlangs ‘n baba gehad het.  Ek was steeds trots op dít wat ek bereik het.

Ek het ook gehoor dat Juffrou deel was van die 4 x 800m-aflosspan.  Hoe het hierdie wedloop afgeloop?

Ja, op 30 April het my aflosspan ‘n silwer medalje op die SA’s in die 4 x 800m SA-kampioenskappe in Sasolburg verwerf.

Wat is Juffrou se doelwit?

My doelwit is om eendag Olimpiese Spele toe te gaan.  Ek het nog 3 jaar se voorbereiding oor. Ek sal graag onder 2 minute op ‘n 800m wil hardloop of om so naby as moontlik daaraan te kom.

Het Juffrou enige raad vir voornemende SA-atlete?

Moet nooit jou drome opgee nie.  Maak nie saak hoeveel mense in jou twyfel nie, jy weet waarvan jy gemaak is.  Spreek positiewe woorde oor jou uit.  Oefen hard, werk hard en glo in jouself.  Jy is nooit te oud om jou drome en doelwitte te bereik nie.  Ander mense maak nie saak nie, dis wat jy oor jouself dink wat die verskil maak.  As jy glo jy kan dit doen, dan kan jy.  Pak alles 100% aan.