Geskryf deur: Wernich van Niekerk 2 min

Ons Rantie-juffrouens KAN teken!

Op 1 Februarie het die Kunsklub met groot opgewondenheid afgeskop en baie kinders het aangesluit om hulle talente te kom oefen en ten toon stel! Om die nuwe jaar se kunsopgewondenheid af te skop, het ons drie kunsjuffrouens ‘n tekenkompetisie gehad. Wie dink julle het die mooiste blompot geteken?

Juf. Kitching, juf. R. Venter en juf. Wessels het bymekaargekom en gewys hoekom hulle die regte keuse was om ons kunsklubkinders te mentor. Hulle het 10 minute gehad om hul blompotte te teken. Juffrou Venter se pot het soos ‘n traanvormige pot gelyk. Alhoewel sy nie genoeg tyd gehad het om dit in te kleur nie, het sy seker gemaak dat haar pot perfek gevorm is. Juffrou Venter het vir seker ‘n talent vir kuns. Sy het een van die mooiste potte geteken, maar het sy beter as die ander twee juffrouens geteken? Kom ons vind uit…

Juffrou Kitching se pot het baie anders gelyk. Haar pot was langwerpig en dun. Haar pot het baie mooi lewende blomme gehad. Een blom wat juffrou Kitching geteken het, was ‘n sonneblom – ‘n pragtige en magtige blom! Juffrou Venter het vir seker groot kompetisie gehad!

Juffrou Wessels het uit die boks gedink en die hele bladsy vir haar kunswerk benut. Haar pot het ook soos ‘n traanvormige pot gelyk, met baie patrone op en met blomme wat sterk en reguit uitspruit.

Wie dink jy het hierdie kompetisie gewen?

Ek kan met trots sê dat al drie juffrouens die wenprys verdien en dat ons almal baie by hulle kan leer. Wie weet? Onder hulle leiding mag hier dalk ‘n paar Van Gogh’s, Picasso’s of Rembrandt’s ontdek word. Die Ranties sien uit na die kunstenaars wat onder hulle leiding in 2024 gaan ontwikkel. 

© Kopiereg 2025 #Rantiesnuus. Alle regte voorbehou.