Geskryf deur: Landi Pretorius 3 min

Uit ‘n mamma se hart

Die dag wat jy jou eerste kind vashou, verander jou wêreld. Ewe skielik is jy die belangrikste persoon vir iemand. Nou is die lyfie geheel en al afhanklik van jou en die meeste van ons sou erken dat ons nie eens altyd seker was of ons na onsself kon kyk op daardie stadium nie. Mettertyd word hulle meer onafhanklik en begin die wêreld vir hulle oopgaan.

Eers is die wêreld net die kombuiskas met al die dinge wat lawaai maak en dan kom die koffietafel met al die interessante dinge wat kan breek. Kleuterskool en dan laerskool se eerste dag breek selfs die hardste ma en pa en elke eerste dag van skool is daar ’n toename in snesieverkope. Niks berei jou egter voor vir die eerste kamp nie.

Buiten vir die holderstebolder van gereedmaak, na die perfekte plakkies soek en tasse pak, is daar die hele tyd ‘n wolk wat om jou ouerhart hang. Natuurlik steek ons dit weg, sodat Sussa en Boeta nou nie kan sien dat ons dit eintlik oorweeg om hulle in hul kamers toe te sluit totdat hulle getroud is nie. Ek weet dat daar ouers is wat hierdie beter kan hanteer, maar ek is nie een van hulle nie.

Vanoggend toe ons Sussa moes aflaai, was daar groot opgewondenheid tussen die kinders. Op die aantreeblok het dit gelyk of iemand ‘n miershoop omgeskop het. Mens kan nie glo dat die lot vyfuur in die oggend soveel energie het nie.

Weereens oorweeg ek dit om haar met kit en kaboedel in die kar te laai en terug huis toe te vat. Sal die klein mêddem nie net daar en dan die skille van my oë afhaal nie… Pleks van aan my vaskleef soos ‘n driejarige by die tandarts, stap sy reguit na haar maats toe en groet hulle asof sy hulle drie jaar laas gesien het en nie drie dae laas nie. Ek, Pa en klein sus kry almal net sulke halwe drukkies en die soen moes ek maar inpas op haar wang terwyl sy besig was om planne te maak vir waar hulle in die bus gaan sit.

Ons het haar darem weer later vasgetrek om ordentlik te groet, maar toe is ons weer laat gaan en moes ons toe maar ry. In in my geestesoog beleef ek die dag wat ek haar finaal uit die huis uit sal laat gaan… en begin beplan om ‘n groter erf met sesvoetmure te koop en vreeslike kwaai honde aan te skaf. Ek grap net.

Ek hoop sy geniet haar gate uit en dat die toer vir haar en haar maats een van die beste ondervindings sal wees. Ek hoop dat sy die selfvertroue en selfstandigheid sal hê om eendag op haar eie die wêreld in te gaan. Ek hoop sy onthou as sy eendag groot is om so nou en dan haar ma te bel. 

© Kopiereg 2025 #Rantiesnuus. Alle regte voorbehou.