Geskryf deur: Marichke Pucjlowski 3 min

Menseregtedag

Om ‘n kind te wees, beteken jy het geen regte nie; of wag, dalk is daar meer regte waaroor kinders beskik as wat hulle dink?

Hierdie is groot (soos in BAIE groot) woorde vir kinders wat eintlik nog net sorgeloos die lewe moet geniet op Randhart se skoolgronde en by hulle huise... Maar dinge werk soms anders as in feetjieland, nè?

Op eie bodem, moet ongelukkige dinge soos regte aangespreek word. In Lewensvaardigheid leer ons die Grondwet is waar ons land se belangrikste reëls opgeskryf word (dis nou natuurlik daai reëls waaroor jy nie kan onderhandel soos met jou ouers se reëls nie). Hierdie reëls is regte waarop elke kind en grootmens in ons land geregtig is.

Terwyl ek sit, skryf en oplees in my LV-boek oor die swaar onderwerp, debatteer ons in die huis oor kinderregte en my tienerbroer se mond is die grootste en hardste. Hy het baie te sê oor al sy regte (wat hy droom hy het). Ek hoor hoe my ma hom kliphard op sy plek sit... VOORREGTE mannetjie, nie regte nie! Ek word sommer by die preek ingesleep en ons word mooi vertel dat elke reg wat daar is, kom met ‘n verantwoordelikheid.

Ek wonder of my ma nie haar beroep as predikant gemis het nie? “Kinders, julle moet mooi verstaan, julle het natuurlik ‘n reg op onderrig en onderwys, maar dis jou verantwoordelikheid om hard te leer en altyd jou beste te doen. Dieselfde geld daarvoor om kos te kry, versorg te word en ‘n veilige plek om te woon. Maar julle het dan ook so die verantwoordelikheid om nie kos te mors nie en te help kyk na jou blyplek om dit netjies en skoon te hou.”

My broer maak die fout om haar in die rede te val met die reg dat ‘n kind nie mag werk nie, so hy gaan nie die skottelgoedwasser meer inpak nie. Dis net daar wat ek koes, want ek weet my ma gaan hom nou met ‘n eierspaan of ‘n ding gooi. Ek is jonger as hy en weet van beter, maar tieners het minder verstand as breins. Hy verstaan duidelik nie die verskil tussen hande-arbeid en huistakies waarmee jy ‘n verantwoordelikheid het om te help nie.

Talente hardloop mos in die gene en ek besluit dis tyd om nou my preektalent op my ma te toets, want sy moet nie my boetie met daai eierspaan gooi nie. Dis teen die kinderregte! Elke kind het die reg teen verwaarlosing en mishandeling.

Alle grappies op ‘n stokkie! Want met ‘n reuse knop in my keel, dink ek aan kinders daar buite wat nie voorregte het nie en ook wreed van hulle kinderregte ontneem word.

My predikantoupa het altyd luidkeels verkondig dat die Here ons ons sonde en onregte vergewe, maar nie die onregte wat jy ‘n kind aandoen nie. Of dit nou waar is of nie, ek stem beslis saam!

Baie huishoudings kry finansieel swaar en alhoewel ouers graag hulle kinders wil versorg, is dit vir hulle uiters moeilik. Dit is waar ons ‘n verskil kan maak. Diegene wat dit wel kan bekostig, kan by Randhart se broodjieprojek betrokke raak.

Kom ons let op na ‘n maatjie se omstandighede en as daar kinders is wat nooit kossies het nie, rapporteer dit aan ‘n onderwyser. Luister aandagtig as maatjies praat en as jy bekommerd is oor hulle emosionele welstand of vermoed dat ‘n maatjie seergemaak word of bang is, bring dit dringend onder die aandag van een van ons bekwame onderwysers.

Onthou om elke dag (en nie net op Menseregtedag) te bid vir daai maatjies wat nie voorregte het nie en wat onder moeilike omstandighede van hulle kinderregte ontneem word.

Van die os op die jas, so sonder die eierspaan en met een kyk van my pa se kant af, het my broer besef dis maar beter om liewers daai skottelgoedwasser in te pak en te erken dat verantwoordelikhede net so belangrik soos regte is. 

© Kopiereg 2025 #Rantiesnuus. Alle regte voorbehou.