Geskryf deur: Leora Höll 2 min

Lights, Camera, Action! Hier kom Mnr. & Mej. Rantie 2023

Laerskool Randhart het op 8 en 9 Junie hul jaarlikse skoonheidskompetisie en fondsinsameling gehad. Dit was ‘n geleentheid vir al die finaliste om op die verhoog te spog met hul formele aandrokke en pakke. Die Mnr. & Mej. Petite en Rantie-deelnemers het hulle harte en beursies oopgemaak om geld in te samel ten bate van The Purple Willow Children’s Haven.

The Purple Willow bied ‘n tydelike veilige hawe vir jong slagoffers van mishandeling asook agtergelate en verwaarloosde kinders wat hulp nodig het. Laerskool Randhart het elke jaar ‘n fondsinsameling om vir minderbevoorregte mense en -instansies te wys dat die Ranties omgee. Hierdie jaar het ons ‘n ongelooflike doel bereik en tannie Roné Nel, die organiseerder, het tydens die Mnr. & Mej. Rantie Senior-glansgeleentheid ‘n tjek vir ‘n massiewe bedrag van R50000 aan ‘n verteenwoordiger van The Purple Willow Children’s Haven oorhandig.

Die organiseerders het dié jaar Hollywood se “glitz” en “glam” na Alberton toe gebring met die tema: “Going to the Oscars”! Deelnemers en die gehoor is op ‘n rooi tapyt by die Alberton Lewensentrum verwelkom. Almal kon smul aan heerlike kos en lekkernye wat te kope was.

Soos hulle sê in Hollywood: “Lights, camera... Action!”

Deelnemers het op die verhoog geskyn, geglimmer, gespog en geglimlag terwyl hulle in glansryke rokke en pakke voor die beoordelaars gepronk het! Die talentvolle Minke Brits het die gehoor met ‘n opwindende sangvertoning tydens die aand se verrigtinge vermaak en selfs die Pom-poms het die Juniors met hul danspassies kom ondersteun!

Ons kan nie wag om volgende jaar te sien met watter tema hulle vorendag gaan kom nie... 

© Kopiereg 2025 #Rantiesnuus. Alle regte voorbehou.