Die Here het ‘n engel op aarde geskep en ek noem haar ma. Dit is die kragtige woorde wat Sonja Peacock in haar gedig “Ek noem haar ma” geskryf het en dit is so gepas vir Moedersdag wat op 12 Mei 2024 plaasvind.
Die dag maak vir my totaal en al sin, maar hierdie joernalis wou so ‘n klein bietjie ondersoek instel oor waar Moedersdag sy oorsprong gehad het. Ek het my antwoord natuurlik op Google gevind wat vir my vertel dat Anna Jarvis van Philadelphia, wie se ma ‘n vrouegroep gestig het om vriendskap en gesondheid aan te moedig, Moedersdag sy oorsprong gegee het. Op 12 Mei hou sy haar moeder se gedenkdiens wat toe die vasgestelde datum vir die spesiale dag geword het.
Die kern van Moedersdag lê nie net daarin om biologiese moeders te vereer nie, maar ook om alle moederfigure te vier – aanneemmoeders, oumas, stiefma's en moederlike figure wat ons versorg. Dit is 'n erkenning van die ontelbare maniere waarop dit ons lewens soeter maak.
Maar wat maak Mamma so spesiaal? Ons almal weet dat daar geen broodjie in ‘n kosblik en skoon gesiggie sou wees of huiswerk gedoen sou word as dit nie vir ons mammas was nie.
Dit het my natuurlik gelei om bietjie vir ons Ranties te gaan vra: “ Wat maak jou mamma spesiaal?”
Rolandi in graad 2 sê: “Mamma maak gewoonlik pap in die oggende, maar ek eet dit nie en dan maak sy vir my ‘frozen waffels’.”
Gustav in graad 3 sê: “My ma is spesiaal, want ek is lief vir haar.”
Chloe in graad 4 sê: “Want sy kyk mooi na my.”
Chaylen in graad 1 sê: “Sy gee vir my baie ‘sweets’.”
Nezani in graad 5 sê: “Want ek is baie lief vir haar.”
Caylie in graad 7 sê: “Sy maak vir my kos.”
Lila in graad 6 sê: “Omdat sy oulik is en sy gee om vir almal.”
Adam in graad 3 sê: “Want sy is lief vir my en koop vir my ‘Fortnite skins’.”
Sy staan in die oggende voor die skool en maak seker dat jy alles het wat nodig is en jy weet sy kyk vir jou tot sy jou nie meer kan sien nie.
Sy staan in die middae langs die atletiekbaan, rugbyveld en netbalbaan en hoop dat jy nie seerkry nie en dat jy deel is van ‘n span is wat jou ook sien soos sy jou sien. Sy skreeu die hardste vir jou span.
Sy sit in die aande en help jou met jou huiswerk en probeer vir die tweede keer in haar lewe graad 1, 2 en 3 deurkom. In graad 4, 5, 6 en 7 leer sy saam met jou vir die toetsreeks en maak vir jou snaakse sinne en gediggies dat jy tog net die periodieke tabel kan onthou.
Sy sit by die redenaars en hou haar asem vir 7 minute op met die hoop dat jy almal in die gehoor sal oortuig van jou standpunt - sy wil jou nooit sien val nie.
Sy hou jou hand vas as jy van die skool af kom en geen maatjies op die speelgrond kon kry nie.
Sy dink heeldag oor wat sy vir jou vir aandete gaan maak, sodat jy lekker en met ‘n vol magie kan gaan slaap.
Sy vergeet van haar eie hare terwyl sy besig is om ‘n nuwer vlegtegniek te leer, sodat jy mooi lyk vir skool.
Sy huil saam met jou.
Sy bid saam met jou.
Sy bid alleen vir jou
.
Sy is ‘n ma.
‘n Ranties-ma.