Entrepreneurdag is een van die hoogtepunte op die graad 7-leerders se skoolkalender. Dit is ‘n dag waar jong entrepreneurs ‘n geleentheid kry om hul kreatiwiteit te wys terwyl hulle belangrike vaardighede aanleer. Hulle leer hoe om met geld te werk, om produkte te adverteer, met kliënte te praat en saam as 'n span te werk.
Onderwysers het ook ‘n bydrae gelewer en was selfs bereid om bietjie nat te word. Die dag sou ook nie moontlik gewees het sonder die ondersteuning van die ouers nie.
Daar was stalletjies met roomyse, biltong, lekkergoedjies, speelgoed, grimering, waterballonne, 'n fotohokkie, haarsproei, talle speletjies wat die kinders kon speel en sommer baie meer!
Ek het een van die jong entrepreneurs gevra hoe sy dit gevind het en sy het as volg geantwoord: “Dit was baie lekker en dit was ‘n goeie geleentheid om so ‘n bietjie geld vir my beursie te maak. Ek het dit geniet om die kinders se opgewonde gesiggies by my stalletjie te sien.” Een van die entoesiastiese kopers het gesê: “Ek het dit geniet om by almal te koop en die beste deel was die onderwysers wat ge-“dunk” kon word.” Daar was ook natuurlik nie skool gewees nie.