Dis weer ‘n nuwe jaar! Dis soos wanneer jy ’n splinternuwe skryfboek oopmaak en die eerste bladsy nog so wit is dat jy amper te bang is om daarop te begin skryf. Daar is geen rooipenmerke nie, geen verkeerde somme nie en geen “het jy jou huiswerk gedoen?”-gesiggies van die juffrou af nie... (wel, nog nie...).
’n Nuwe jaar beteken jy kry ’n skoon bladsy, nog ‘n kans! Dit beteken gister se foute is nie meer vandag se probleme nie.
Het jy laasjaar jou tas by die huis vergeet? Dis ou nuus! Het jy belowe om vroeër te gaan slaap, maar toe weer laat TV gaan kyk? Hierdie jaar kry jy nog ’n kans (en nog een… en nog een).
Hoe kan jy jou “skoon bladsy” slim gebruik?
• Begin klein.
Jy hoef nie dadelik die slimste in die klas te wees nie. Begin deur net elke dag jou boeke reg in te pak.
• Moenie uitstel nie... want van uitstel, kom afstel.
Huiswerk wat vandag gedoen word, beteken môre het meer tyd vir speel. (Dis wetenskaplik bewys… deur
kinders! Ek belowe!)
• Wees vriendelik.
’n Glimlag kos niks nie en maak jou sommer mooier van binne en buite.
• Leer uit jou foute.
As jy ’n fout maak, moenie die bladsy uitskeur nie – maak die fout dadelik reg en leer uit die fout.
My raad aan ieder en elke Rantie vir 'n suksesvolle 2026
• Probeer elke dag jou beste, al is dit net ’n bietjie beter as gister.
• Luister in die klas (selfs wanneer dit moeilik is omdat die rugbyoefening amper gaan begin).
• Glo in jouself – jy is slimmer as wat jy dink!
So, vat jou pen, haal diep asem en begin skryf aan jou 2026-storie en onthou: elke groot sukses het iewers op ’n skoon bladsy begin!