O aarde, wat ‘n konsternasie!

Die Ranties warm op vir die aflosseisoen
February 9, 2022
Veels geluk Juffrou Cilliers!
February 11, 2022

O aarde, wat ‘n konsternasie!

Geskryf deur:  Die skoolspook

‘n Juffrou, ‘n meneer, ‘n Typek-boks en ‘n haas. ‘n Harde geluid het ‘n konsternasie in die personeelkamer veroorsaak.

Vroegoggend, nog voordat die hekke van die skool oopgeswaai is, gaan maak Juffrou vir haar ‘n koppie koffie. “Ag, as hierdie dag net verby kan kom,” mompel sy agter haar masker. Meneer stap in en hoor hoe sy kla. “Toe nou Juffrou, dit kan sekerlik nie so erg wees nie,” reageer hy terug op Juffrou se gekerm.

Met een groot gil, spring Juffrou omtrent ‘n meter weg van die koffiekas af. Meneer dog sy vererg haarself vir sy opmerking. Jy sien net koffie vlieg en Juffrou hardloop uit die personeelkamer uit. Meneer bekyk die affêre en skud net sy kop. “Kos dit niks om net bietjie vriendeliker in die oggende te wees nie, Juffrou!” skree Meneer agter Juffrou aan op pad na wie weet waar.

Oomblikke later verskyn Juffrou terug in die personeelkamer met ‘n Typek-boks in die hand. Die deksel in die een hand en die boks in die ander hand. Meneer se gesigsuitdrukking skiet vraagtekens. “Juffrou, ek het net met jou gespeel. Moet my asseblief nie met die deksel…” Nog voor Meneer sy sin kon klaarmaak, val Juffrou hom in die rede: “Kom help! Dit hardloop weg!”

Meneer het nog altyd gedink die juffrou hoort in Groendakkies. Jy kan mos nou nie so dou voor dag ‘n konsternasie in die personeelkamer veroorsaak nie. Sy stamp en stoot tussen die stoele; hardloop soos ‘n mal haas rond nét om agter te kom sy IS agter ‘n haas aan.

“Die skarminkel soek al lank vir my,” sê Juffrou. “Nou waag hy nog om ons personeelkamer te kom bemors met sy vuil pote. Vandag maak ek haaspastei!” skree Juffrou terwyl sy kop onderstebo agter die vreesbevange haas aan jaag. Meneer koes en keer voor hy dalk in daai boks beland.

Na seker tien minute se rumoer, vang Meneer die haas met sy hande en sit dit vir Juffrou in haar boks. “Dankie, Meneer,” sê Juffrou verleë. Toe albei onderwysers (met natgeswete gesigte en maskers wat skeef sit) omdraai, staar daar tien pare oë vir hulle. Die kwart voor sewe-onderwysers het opgedaag en die heeltyd na dié konsternasie in die personeelkamer gekyk. Almal dik van die lag.

Meneer en Juffrou, albei met rooi gesigte, besluit toe om maar eerder die hasepad te kies.

Wat word toe van die haas?

Definitief nie haaspastei nie. Dié haas spring rats uit die boks en besluit om eerder groener weivelde, by ‘n skool waar al die onderwysers hul varkies op hok het, te soek. Wat ‘n konsternasie of eerder ‘n konsterhasie…