Om nog heeldag te kan speel... verf, legkaart bou; macaroni ryg... Om speel-speel klaswerk by die skool te kan doen én vroeg huis toe gaan... Dit alles net om nog ‘n Rakker te kon wees. Party van ons verlang terug na ons Rakkerdae en wil graag weer ‘n Rakker wees, want ons wil graag weer in die pophuis speel en met ons tone in die sandput grou!
Dit sal vir seker baie lekker wees, omdat ‘n Rakker teken, inkleur, prentjies plak en leer tel tot by 20! Hulle speel ook al te heerlik in die parkie wat onlangs nuut oorgebou is. Ek is sommer jaloers! Die klasse lyk ook anders as toe ek daar was. Ek onthou so ‘n paar dinge wat my weereens laat terug verlang. Toe ek en my maatjies onder die groot boom gespeel het en meeste dae polisie-en-skelm om die klimraam gespeel het. Ek kon gedurende etenstyd my kos op ‘n skinkbord sit en soos ’n regte kelnerin voel. Tannie Margaret wat vir ons pap gemaak het en ek kon dit in die kombuis gaan haal. O, hoe mis ek vir tannie Margaret en haar stywe drukkies!
Ek dink almal in die seniorgrade sal saam met my stem. Ons wil net vir een dag weer ‘n Rakker wees! Dit is ‘n feit, hoe ouer jy word hoe vinniger vlieg die tyd verby. As jy ‘n Rakker is, is die lewe nog sorgvry.
As ek kon kies, sou ek eerder tyd wou laat stilstaan en ‘n Rakker bly.
Ek hoop al die Rakkers geniet die res van die jaar en sien uit na die groot skool, eendag, by Randhart. Julle sal sien, dít gaan óók vet pret wees!