Soos julle weet, het die Ranties in 2025 'n nuwe koordirigent verwelkom. Vandag kry ons die geleentheid om hom beter te leer ken en uit te vind wat hy vir die Rantie-kore in 2025 beplan.
1. Vertel vir ons waar Meneer se liefde vir koor en musiek begin het?
As jong kind was ek altyd besig om musiek te maak op my ma se potte en panne, iemand te dirigeer met strooitjies, ens. Toe ek 10-jaar oud was, het my ouers ‘n klavier gekoop en ek begin om klavierles te neem.
Ek was ook bevoorreg om in ‘n huis groot te word waar daar na ‘n baie groot verskeidenheid musiek geluister was: van Country tot Opera, Afrikaanse ligteliedjies, koormusiek, orrelmusiek, The Beatles, Elvis, ens. My ma het ook die orrel in ons kerk gespeel vir die grootste deel van my kinderlewe.
In graad 8 was ek verkies tot die Oos-Transvaalse Jeugkoor o.l.v. die ongelooflike Renette Bouwer. Dis hier waar my passie vir koormusiek begin het en ek is so dankbaar dat hierdie geleentheid oor my pad gekom het. Ons jeugkoor het na Europa getoer in my matriekjaar, wat nog ‘n onvergeetlike mylpaal in my musiekopvoeding was.
2. Wat is Meneer se gunstelingkoorlied en wat maak dit so spesiaal vir Meneer?
Daar is te veel om op te noem... Tans is ek totaal oorweldig deur die koorwerk, "World, o World" deur Jacob Collier. Dit is terselfdertyd ‘n konvensionele koorwerk en ook geheel nuut en kreatief, terselfdertyd. Hierdie werk vereis die heel hoogste vlak van tegniese en musikale vaardigheid en kan dus deur net ‘n paar kore in die wêreld gesing word!
3. Hoe beleef Meneer die eerste paar weke as deel van die Rantie-familie?
Van die eerste ontmoeting met mnr. Venter en ander kollegas het ek opreg welkom en gerespekteerd gevoel. Dit was ‘n kultuur waaraan ek baie vinnig gewoond geraak het, aangesien ek dieselfde beleef het van almal met wie ek sedertdien in kontak was. Verder is die Ranties werklik blinkoog kinders met soveel potensiaal – ek is woes opgewonde oor wat ons almal sáám gaan vermag!
4. Hoe sal Meneer die musiekkeuses vir die laerskoolkore bepaal en verseker dat dit gepas is vir die verskillende ouderdomsgroepe?
Na 33 jaar se ondervinding met kinderstemme, van 4-jariges tot matrieks, is ek bevoorreg om ‘n baie ryk ervaring te hê wanneer dit by die regte repertoriumkeuses kom. Ek verstaan kinders se stemme baie goed en weet watter komposisies verantwoordelik sal wees, ten opsigte van die sensitiwiteit van daardie klein spiertjies. Verder moet kinders altyd musiek sing wat hulle kan verstaan en waarvan hulle ‘n verwysingsraamwerk het. Daar moet musiek wees wat makliker haalbaar is, terwyl ander werke die sangertjies weer moet uitdaag!
5. Wat is Meneer se visie en drome vir die Rantie-kore in 2025?
My plan en hoop vir 2025 is dat ons ‘n baie gesonde kultuur van koorsang kan vestig. Dit sluit ‘n hele paar dinge in:
Die regte raamwerk en dissiplines, hoe musiek werk, hoe hulle stemme werk en ‘n sterk sin vir spanwerk en die waarde van elke spanlid. Ek wil die kinders ook graag belewenisse gee wat hulle vir nog baie jare sal onthou. Bo alles gaan dit vir my oor ons kinders se harte, oor die feit dat God elkeen presies geskape het soos dit in Sy wil bestaan. Ten einde is koorsang net die medium wat tot my beskikking is om hulle as mense op te bou en te help groei tot selfstandige individue.
Hier by die Ranties sien ons saam met mnr. Johan Bester uit na ‘n wonderlike koorseisoen vol harmonieuse oomblikke. Mag julle almal met oorgawe en passie sing en mag julle die musiek geniet, terwyl julle hard werk om die beste note te lewer. Glo in julleself, ondersteun mekaar en onthou dat die belangrikste is om pret te hê en die ritme van die proses te geniet. Ons weet dat julle ongelooflike dinge gaan bereik en dat elke toon ‘n stap nader aan iets besonders is! Sterkte mnr. Johan Bester en die koorlede met die seisoen – mag die musiek met julle wees!