Geskryf deur: Clarindie le Roux 5 min

Ons gesels met
dr. Elsje Jordaan

Ek het onlangs die voorreg gehad om ‘n paar vrae aan dr. Elsje Jordaan te stel. Dr. Elsje Jordaan is ‘n puik netbalafrigter en is die huidige afrigter van die “Gauteng Golden Fireballs”.

1. Waar het u liefde vir netbal begin?
As ‘n klein dogtertjie het ek altyd saam met my pa skool toe gegaan (hy was ‘n
skoolhoof) en dan het ek sommer saam met die spanne geoefen. Ek hou van mense en dit was vir my lekker om saam met ander vriende te wees.

2. Wat is die hoogtepunt van u netballoopbaan tot dusver?
As ‘n speler: Toe ek my heel eerste toets vir Suid-Afrika gespeel het (en daarmee saam om die eerste keer tot die span verkies te word.). My heel eerste toets was teen Engeland in Manchester. Dit was ‘n ongelooflike oomblik om my land te kon verteenwoordig.

As ‘n afrigter: Toe ek aangewys was as die Protea-afrigter na ‘n reeks van baie intensiewe onderhoude en voorleggings. Toe die Fireballs die eerste keer in hulle geskiedenis die TNL gewen het. Om einde 2024 die Spar Nasionale Kampioenskappe drie jaar in ‘n ry te kon wen. Dit was baie spesiaal.

3. Was daar enige laagtepunte of iets wat u anders sou wou doen?
Daar was baie teleurstellings en laagtepunte in my spelers- en afrigtersloopbaan. Daar was al baie seer oomblikke, maar wanneer ek terugkyk op my loopbaan is ek baie trots dat ek weer kon opstaan, aangaan en beter word. Daar is niks wat ek anders sou doen nie, want die Here bepaal ‘n mens se pad. Ek is dankbaar dat ek kon leer en tweede kanse kon kry om die foute dan te probeer voorkom of oorkom.

4. Ons Rantie-netbalspanne het die naweek van 28 Februarie – 2 Maart 2025 ‘n netbaloefenkamp by Sportisimo bygewoon. Dit was voorwaar ‘n fantastiese naweek vol pret en harde werk. Vertel ons asb. ‘n bietjie “wie en wat” Sportisimo is en waar die gedagte van Sportisimo ontstaan het.
Sportisimo is ‘n opleidingsmaatskappy wat ek in 2003 begin het. Dit is ʼn groot passie van my en Minnette Dempsey (my sakevennoot) om waarde tot mense se lewens toe te voeg en ‘n verskil te maak. Ek glo God het hierdie onblusbare energie in ons gesit om met passie te leef. Sportisimo se “slogan” is: “Where passion meets purpose!” Ek het altyd gedroom om my eie besigheid te kan bedryf en ek is elke dag dankbaar dat ek al vir 22-jaar geseën word om my passie te kan leef en dit doen as ‘n werk.

5. Het u enige raad of advies vir die Rantie-netbalsterre wat ook ‘n liefde en passie vir netbal het?
Harde werk is nie ‘n waarborg vir sukses nie, maar dit is die begin van sukses. Die Ranties se toewyding het my die naweek weereens beïndruk en die passie waarmee hulle netbal speel. Mag julle altyd vir mekaar hard werk, sodat jy die spelers om jou sal ondersteun en net die beste vir hulle wil hê. Om sport saam met jou maats te kan doen, is baie spesiaal. Wees goed vir mekaar.

6. Prettige feite
a. Stokperdjie?
Ek het nie ‘n stokperdjie nie (het nie tyd nie), maar is baie lief vir reis.
b. Gunstelingkos?
‘n Skaapbraaitjoppie en alles wat saam met braai gaan 😊 en sjokolade.
c. Gunstelingkleur?
Blou
d. Beste netbalspeler van alle tye?
Sharelle McMahon – HD van Australië
e. Waarvoor gril u?
Enige iets kleiner as my maltese poedeltjie met meer as vier bene.
f. Wat maak u gelukkig?
Tyd saam met my familie en as hulle gelukkig, gesond en tevrede is. 

© Kopiereg 2025 #Rantiesnuus. Alle regte voorbehou.