Geskryf deur: Melinique Nel 5 min

Ons gesels met
juffrou I. Botha

Ná Laerskool Randhart se indrukwekkende oorwinning by die FDDCMSA Provinsiale Kampioenskappe, het ek, Melinique Nel van die skoolkoerant, die voorreg gehad om met juffrou I. Botha, een van die afrigters van ons pom-pom-span, te gesels. Sy het met groot passie vertel waar die idee vir die span ontstaan het, hoe leerders deel kan word van hierdie energieke groep en wat dit regtig beteken om ‘n kampioenspan te wees. Sy het ook insig gegee oor dit wat voorlê vir die span en hoe hulle mekaar gemotiveerd hou – selfs ná ’n groot oorwinning.

1. Hoe het die idee ontstaan om ’n pom-pom-span by Laerskool Randhart te begin en wie het dit aanvanklik van die grond af gekry?
ʼn Voormalige assistent, juffrou Oeschger, het die pom-pom-span by Laerskool Randhart begin en sy het aanvanklik ‘n gaping gesien waar dansers hulle passie en vermoëns kan uitleef.

2. Wat moet ’n leerder doen om deel van die pom-pom-span te word? Is daar spesifieke vereistes of oudisies waaraan hulle moet voldoen?
Oudisies vind jaarliks aan die einde van die jaar plaas wanneer alle kompetisies afgehandel is. Gedurende die oudisie kyk ons na verskillende vaardighede. Ons kyk hoe vinnig leerders ‘n danspassie kan leer en uitvoer. Indien die leerders enige toertjies kan doen, is dit ‘n bate, omdat ons toertjies gedurende ons dans uitoefen. ‘n Leerder moet ook hulle persoonlikheid wys terwyl hulle dans.

3. Na julle onlangse sukses by die FDDCMSA-kompetisie, watter ander kompetisies of geleenthede sien julle uit na vir die res van die jaar?
Die jaarlikse 90.6 dans “cheeroff” is een van die kompetisies waarna ons uitsien en streef om weer ‘n uitstekend te vaar soos ons 2de plek van laasjaar. Ons sien ook uit om vir die eerste keer by Con Spirito op te tree.

4. Hoe hou julle die span se gees en motivering hoog, veral ná ’n groot prestasie soos dié?
Ons gee graag erkenning vir die meisies gedurende oefening en kompetisies en gee die meisies doelwitte om na te streef soos byvoorbeeld om die dans binne ‘n week te leer. Die passie van ons choreograaf en danspassies wat sy vir die meisies gee, motiveer hulle ook gereeld om aan te hou werk. Tydens oefening, veral 6-uur die oggend, moedig ons leerders aan om steeds hard te werk en hulle sal die vrugte daarvan pluk.

5. Wat beteken dit vir die skool en vir die leerders om deel te wees van die pom-pom-span – watter invloed het dit op hul selfvertroue en skoolbetrokkenheid?
Om deel te wees van ’n pom-pom-span by Laerskool Randhart is ’n groot prestasie, aangesien baie leerders die oudisie bywoon. Dit gee lede die kans om hul danspassie uit te leef, selfvertroue en selfversekerheid te ontwikkel en trots te wees op hul rol om die gees by die skool hoog te hou. ’n Pom-pom-span bevorder selfvertroue en selfversekerheid deurdat dit lede help om gemaklik voor ander op te tree, ’n positiewe selfbeeld te ontwikkel, spanwerk en ondersteuning te ervaar en hul vermoëns deur oefening en prestasie te verbeter. Dit leer hulle ook leierskap en gee hulle ’n gevoel van trots en sukses.

Uit my gesprek met juffrou Botha het ek besef dat die pom-pom-span baie meer is as net ‘n ekstrakurrikulêre aktiwiteit – dit is 'n familie waar leerders leer om saam te werk, drome na te jaag en trots te wees op hul skool. Die pom-pom-span is ’n inspirasie vir almal by Laerskool Randhart – want by Laerskool Randhart is pom-poms nie net iets wat jy doen nie – dis iets wat deur jou are pomp.  

© Kopiereg 2025 #Rantiesnuus. Alle regte voorbehou.