Bybelvasvra kweek ‘n liefde vir die Bybel en Bybelstudie. Dit bevorder kommunikasie en samewerkingsvermoë in ‘n span. Vandag klop ek by juffrou Erasmus aan om meer uit te vind in verband met hierdie opwindende en spesiale aktiwiteit en kompetisie vir laerskool- en hoërskoolleerders.
1. Kan Juffrou vir ons ʼn bietjie meer van Bybelvasvra vertel en wat dit behels?
Bybelvasvra is ‘n aktiwiteit waar ons in one eie taal, Afrikaans, die inhoud van die Bybel bestudeer. Jy leer nie net feite en kennis oor die Bybel nie, maar spandeer ook tyd met die Woord. Jy verbeter ook jou taalgebruik en sinskonstruksie.
2. Kan enigiemand deel van die Bybelvasvraspan wees en wie kan ons daarvoor kontak?
Die Super 12 en Rapportryers laat toe dat ons ‘n span van 3 tot 4-leerders van graad 4 - 7 inskryf. Hier by Laerskool Randhart kies ons graad 6 en 7-leerders om deel te neem.
3. Hoe berei ʼn mens vir Bybelvasvra voor?
Lees, lees, lees en oefen, oefen, oefen. Die hoofstukke word gegee waarna dit deurgelees word. Kernwoorde word uitgehaal om te leer. Meervoudige keuse, kortvrae, pasmaats, blokkiesraai, versbou en snelsoek word ingeoefen.
4. Wat maak Bybelvasvra relevant ten spyte van sosiale media wat so ‘n groot invloed op ons almal het?
Met Bybelvasvra word jou sosiale vaardighede en om in ‘n span te werk, uitgedaag. Jy leer meer van jouself en die ander in die span.
5. Ek het gehoor die Ranties het vanjaar aan die Super 12 deelgeneem. Vertel ons ʼn bietjie meer van die geleentheid.
Dit was ‘n spoggeleentheid met die tema Bome. Ons het teen 17 Super 12-skole deelgeneem en het 13de geëindig.
6. Wat is Juffrou se gunstelingboek of teksvers in die Bybel en hoekom?
Prediker 3:11
Ek hou van groenheid en groei. Hierdie teksvers herinner my dat alles ‘n perfekte tyd het.
Ek wil graag al my mede-Ranties aanmoedig om by Bybelvasvra betrokke te raak en jou liefde vir die Bybel aan te wakker.