Geskryf deur: Melinique Nel 4 min

Ons gesels met
juffrou Van Zyl

As deel van my belangstelling in sport en om meer oor die wêreld van hokkie-afrigting te leer, het ek 'n onderhoud met juffrou Karen van Zyl gevoer – die hoof van hokkie-afrigter by Laerskool Randhart. Haar insigte gee vir ons 'n kykie agter die skerms van wat dit verg om ʼn span suksesvol af te rig en jong spelers te ontwikkel.

1. Juffrou Van Zyl, hoe lank is u al betrokke by hokkie-afrigting by Laerskool Randhart en hoe het alles begin?
Ek is al vir sowat twintig jaar betrokke by hokkie-afrigting by Laerskool Randhart. Alles het begin toe ek as jong onderwyseres my liefde vir sport met die leerders wou deel. Hokkie het my onmiddellik getrek, nie net oor die tegniek en strategie nie, maar oor die spanwerk en leierskap wat dit kweek.
Ek was ook op skool en universiteit ʼn kranige hokkiespeelster en het ook al verskeie Oos-Gauteng-hokkiespanne afgerig.

2. Wat maak die hokkieprogram by Laerskool Randhart uniek of besonders in vergelyking met ander skole?
By Laerskool Randhart fokus ons nie net op prestasie nie, maar op karaktervorming. Ons program bied elke speler, ongeag hul vaardigheidsvlak, die geleentheid om te groei. Ons plaas baie klem op dissipline, respek en spanwerk. Wat ons ook uniek maak, is ons sterk afrigtingspan wat met passie en toewyding werk, asook ons ondersteuning van ouers en die gemeenskap.

3. Wat is Juffrou se visie vir hokkie by die skool en hoe probeer Juffrou dit elke seisoen bereik?
My visie is om ʼn liefde vir hokkie te kweek wat verder strek as net die speelveld – dat leerders met selfvertroue, verantwoordelikheid en 'n gesonde leefstyl uit die program stap. Elke seisoen stel ek doelwitte vir ontwikkeling, maar ook vir die bevordering van spanwerk en persoonlike groei. Ek moedig leerders aan om uitdagings met moed en samewerking aan te pak.

4. Watter rol speel hokkie in die algehele ontwikkeling van leerders – fisiek, emosioneel en sosiaal?
Hokkie ontwikkel leerders se fisieke uithouvermoë, koördinasie en fiksheid. Emosioneel leer dit hulle om teleurstelling te hanteer en trots te wees in hul pogings. Sosiaal bou dit verhoudings, leer dit kommunikasie en die belangrikheid van spanwerk. Dit is ’n veilige ruimte waar kinders hulself kan wees en waardevolle lewensvaardighede aanleer.

5. Kan Juffrou een spesiale oomblik of prestasie deel wat vir Juffrou as afrigter uitstaan?
Een van my spesiaalste oomblikke was toe my o. 13-dogterspan (wat toe reeds Oos-Gautengwenners was), teen alle verwagtinge, ʼn moeilike toernooi - Champ of the Champs – wat skole regoor die land insluit, gewen het. Dit was nie net die oorwinning self nie, maar oor hoe die span saamgestaan het – elke speler hul rol verstaan het en mekaar ondersteun. Ek was ongelooflik trots.

Hierdie onderhoud het vir my gewys hoeveel toewyding, passie en harde werk agter ʼn hokkie-afrigting sit. Juffrou Karen se ervaring en liefde vir die sport is duidelik in alles wat sy doen. Ek kyk op na haar as ’n inspirerende hokkie-afrigter met baie ervaring en ʼn opregte passie vir hokkie. Sy motiveer ons hokkiespelers om altyd ons beste te gee en trots te wees om deel van Laerskool Randhart se hokkieprogram te wees. 

© Kopiereg 2025 #Rantiesnuus. Alle regte voorbehou.