Geskryf deur: Olivia Ford 3 min

Ons gesels met juffrou Steenkamp

Hallo aan al die Ranties. Ons is weer terug in die nuuskantoor en gesels vandag met juffrou Steenkamp oor die 2025 Kunswedstryd.

1. Het Juffrou as kind aan die kunswedstryd deelgeneem?
Ek kan glad nie onthou dat kunswedstryd in die laerskool so 'n groot affêre was soos vandag nie. Ek het net in St. 7 (gr. 9) `n gediggie opgesê.

2. Die registrasieperiode het reeds verstryk. Weet Juffrou dalk hoeveel inskrywings die skool het en hoe vergelyk dit met vorige jare?
Ons het om en by dieselfde as verlede jaar ingeskryf, maar het hierdie jaar weer ons 2 kore en 3 spreekkore ingeskryf. Verlede jaar het ons nie, want dit was revue.

3. Watter kunswedstryditem geniet Juffrou die meeste?
Ek is mal oor die spreekkore. Ek hou van die gediggies wat hulle voordra, omdat dit gewoonlik snaaks is. Dis lekker om kinders te sien deelneem wat gewoonlik nie aan ander items deelneem nie.

4. Kan Juffrou dalk 'n paar van die gedigtitels vir ons noem? Is daar een gedig wat die jaar vir Juffrou uitstaan?
Ek is bang vir volstruis
Oorskietkos
My suster is verlief
The silliest teacher in school
Al hierdie gedigte klink vir my interessant en lekker om te leer.

5. Wat is Juffrou se gunstelinggedig? Hoekom geniet Juffrou dié spesifieke gedig so baie?
Ek is nie regtig 'n gedigliefhebber nie, maar ek hou meer van gedigte vir kinders - hoe lawwer, hoe beter. Een gedig wat ek nogal geniet, is die gedig wat in Afrikaans of Engels gelees kan word, My stories begin as letters.

6. Het Juffrou vir ons ‘n paar “tips” oor hoe om vir die kunswedstryd voor te berei?
Begin vroegtydig! As iemand wat goed altyd los tot op die laaste nippertjie, weet ek waarvan ek praat. Vra hulp as jy sukkel. En geniet dit!

Dankie Juffrou. Ek glo dat die Ranties die jaar stof in die ander deelnemers se oë sal skop en top uitslae sal behaal!

Groete vanuit die Ranties-nuuskantoor.

© Kopiereg 2025 #Rantiesnuus. Alle regte voorbehou.