Juffrou Van der Schyf het ‘n swemafrigterkwalifikasie (PSTCA) asook ‘n babaswemkwalifikasie (PBSTCA) en was ‘n swemafrigter vir sewentien jaar. Ek self het die voorreg gehad om as kleuter by dié juffrou swemlesse te kon kry.
Rugslag is hierdie juffrou se gunstelingswemstyl, omdat dit so elegant is. ‘n Enkelvoudige rugslag is gewoonlik een van die eerste tegnieke wat in swemklasse aangebied word, sodra die swemmer gemaklik in die water is. ‘n Swemmer se duim dui die rigting aan, waarheen die swemmer op pad is, met dié tegniek.
‘n Swemmer se kopposisie help om die liggaam horisontaal en in ritme te hou wanneer ‘n swemmer na die bodem van die swembad kyk.
“Dit is belangrik vir ‘n swemmer om ritme te hou, want dit dra by tot jou swemspoed en uithouvermoë. Swem leer ons om ons fisiese, emosionele en geestelike ritmes te kombineer,” sê die swemkenner.
Swem word as 'n gesonde en effektiewe oefenmetode beskou, omdat bykans al die spiere in die liggaam gelyktydig oefening kry. ‘n Swemmer se liggaamsmassa word deur die water gedra en die aksie plaas nie oormatige druk op ‘n swemmer se knieë en gewrigte nie.
Toewyding en oefen, oefen, oefen is hierdie juffrou se wenresep vir iemand wat graag swem as ‘n sport wil aanpak.