Geskryf deur: Lente Buitendag 4 min

Ons gesels met
mnr. De Ru

Meneer de Ru is ‘n wel gerespekteerde departementshoof en hanteer die opvoedkundige leiding hier op die Rantieswerf. Hy is ook ‘n ASA-vlak 3 nasionale atletiekafrigter en is tans besig met sy meestersgraad in Olimpiese studies, deur die universiteit van Köln in Duitsland. Nie net is hiérdie meneer ‘n legende op ons eie atletiekbaan nie, maar hy is ook betrokke by Atletiek Suid-Afrika, waar hy gereeld vir hulle afrigtingskursusse regoor die land aanbied.

Ons eie toegewyde atletiekspesialis het op die ouderdom van 6 reeds sy passie vir atletiek by Laerskool Theo Wassenaar in Gauteng ontwikkel. Hy het al aan verskeie wedlope, nasionaal en internasionaal, deelgeneem. Na skool het hy elke jaar aan die SA-kampioenskappe deelgeneem. Op die ouderdom van 28 het meneer De Ru voltyds begin atletiek afrig.

Meneer De Ru se inspirasie kom van die Namibiese naelloopatleet, Frankie Frederiks, af wat die eerste medaljewenner vir Namibië by die Olimpiese Spele was. Met dié inspirasie, het meneer De Ru al meer as ‘n geskatte 100 000km gehardloop.

As deel van ons atletiekkenner se ondervinding, was hy al 'n paar keer in Europa gewees en sy gunsteling was om aan die binnehuise atletiekbyeenkomste deel te neem. “Europa se atletiek is ongelooflik, want die mense voel daar oor atletiek soos Suid-Afrikaners oor rugby voel,” sê ons atletiekkenner.

“Atletiek leer mens selfdissipline en om vas te byt al is dit seer, moeilik en nie lekker nie. Hiérdie aspekte lei tot sukses. Nie net sukses met atletiek nie, maar ook in ‘n mens se alledaagse lewe. Dit leer ‘n mens om doelwitte te stel en daarvoor te werk. En niks is meer lonend as jy daardie enkele perfekte oomblik bereik na ‘n duisend herhalings nie,” sê ons eie atletieklegende.

Ek voel nou so geïnspireerd. Om hierdie onderhoud met só ‘n toegewyde deskundige te kon voer, was vir seker ‘n voorreg! 

© Kopiereg 2025 #Rantiesnuus. Alle regte voorbehou.