Ons het die besondere voorreg gehad om saam met tannie Nurse en oom Lawrence te gesels oor die ware betekenis van liefde.
1. Hoe en waar het julle mekaar vir die eerste keer ontmoet?
Ons het by die kerk ontmoet; dis waar alles begin het!
2. Wat was julle heel eerste indruk van mekaar?
Ons het dadelik van mekaar gehou en geweet ons sal eendag trou.
3. Wie het eerste gesê "Ek hou van jou"?
Lawrence het eerste gesê dat hy baie van my hou.
4. Wat is die een ding van die ander persoon wat jou altyd laat glimlag?
As Nurse dans, kan ek nie help om te glimlag nie.
5. Wie van julle is die oggendmens en wie is die "naguil"?
Lawrence is ‘n oggendmens. Nurse hou daarvan om laat te slaap.
6. Oor watter klein dingetjie stry julle die meeste (soos die skottelgoed of wie te veel op hul foon is)?
Ons stry beslis oor wie die skottelgoed gaan was.
7. Wat is julle gunstelingtradisie om saam te doen (soos pizza-aande of saam koffie drink)?
Ons geniet dit om saam koffie te drink.
8. Baie mense sê dat daar 'n te groot ophef van Valentynsdag gemaak word en dat dit net 'n 'geldmaak-storie' vir winkels is. Wat is julle eerlike opinie daaroor?
Ons geniet Valentynsdag; ons vier dit elke jaar.
9. Dink julle dit is belangrik om Valentynsdag groot te vier of is die klein gebare elke dag belangriker?
Dis belangrik om die dag te vier, selfs by ons kerk kry almal ‘n klein geskenkie.
10. Wat is die snaaksste of beste Valentynsgeskenk wat julle al vir mekaar gegee het?
Ons het al vir mekaar snaakse koffiebekers gegee.
11. Dink julle liefde is ’n gevoel in ‘n mens se hart of is dit ’n besluit wat mens elke dag neem?
Beslis ‘n gevoel in die hart!
12. Watter raad het julle vir jongmense wat eendag ’n gelukkige verhouding wil hê?
Fokus op mekaar en wees net lief vir mekaar! Liefde wen altyd.
13. Wat is die "geheime bestanddeel" wat julle huwelik na al die jare nog gelukkig hou?
Die kerk hou ons standvastig.
Met wysheid, warmte en ’n tikkie humor het hulle stories gedeel wat ons harte aangeraak en ons laat nadink het oor wat dit beteken om werklik lief te hê. Dit was ’n inspirerende oomblik wat ons weer laat besef het dat liefde groei waar daar omgee, begrip en toewyding is.