Dit is glad nie vreemd om met kinders in ons skool te praat wat weet van iemand wat geëmigreer het nie. Baie van ons Ranties weet te goed wat die woord emigreer beteken en moes al familie en vriende groet wat oor die see na ‘n vreemde land getrek het.
Dit is ook nie snaaks om Mamma, Ouma of Tannie te hoor sê dat hulle biltong, bistro en blatjang na ons oorsese families moes stuur nie.
Ons het dit darem lekker hier in Suid-Afrika en daar is soveel redes hoekom Suid-Afrika die beste plek in die wêreld is om te bly.
Ek het so ‘n paar Ranties gaan waarom hulle dink Suid-Afrika ‘n lekker plek is om te bly.
Lily-Ann in graad 1 sê: “Daar is goeie skole hier (Randhart is natuurlik die beste).”
Mieke in graad 7 sê: “Ons braai lekker vleis elke tweede dag.”
Mila in graad 6 sê: “Koeksisters en lekker Afrikaanse tradisies is die beste.“
Kyk, ons Ranties weet wat lekker is en wat is nou lekkerder as ‘n lekker braai met lekker Afrikaanse tradisies op ons skoolveld!
En die wêreld stem saam.
My ondersoek bevind dat Suid-Afrika, sy stede en sy mense elke jaar baie internasionale toekennings wen.
In 2017 is Suid-Afrika aangewys as die vyfde mooiste land ter wêreld, terwyl Kaapstad aangewys is as die wêreld se beste stad om te besoek.
Ons strande kom ook tops uit. Nie minder nie as 46 van Suid-Afrika se strande is vir die 2018/2019-seisoen die Blouvlagstatus gegee.
Hou jy van lekker eet? Gaan dan na Wolfgat, La Colombe en Fyn wat drie plekke op die 2022 Wêreld se 50 Beste Restaurant-lys verwerf het.
Suid-Afrikaners is regoor die wêreld bekend as van die vriendelikste mense ter wêreld.
Suid-Afrikaners het die beste weer! Ons geniet die meeste dae van die jaar helderblou lug en warm sonskyn.
Ons het die Groot Vyf wat ons sommer op ons voordeur kan gaan bewonder.
Ons het ook amper geen natuurrampe nie! Ja, Suid-Afrika het 'n paar vloede, maar ons kry geen groot aardbewings of sikloniese storms nie.
In Suid-Afrika kan jy saam met haaie duik, walviskyk, saam met pikkewyne swem, rekspring van die hoogste kommersiële brug in die wêreld (dis 216 meter, as jy gewonder het), Nelson Mandela se sel op Robbeneiland besoek, die hoogste waterval in Afrika sien... en dit is om net ‘n paar goed te noem.
Suid-Afrika het ook baie interessante en lekker vakansiedae wat eie aan ons is. Een van dié is Mandela-dag. Die viering van Mandela-dag is ingestel om te dien as 'n wêreldwye oproep tot aksie vir mense om "hul individuele krag te erken om 'n verskil te maak en te help om die wêreld om hulle ten goede te verander", volgens die Nelson Mandela-stigting. Die oogmerk is die ‘My 67 Minutes’-veldtog wat almal aanmoedig om 67 minute uit hul dag te neem – een minuut vir elke jaar wat Mandela vir menseregte en sosiale geregtigheid geveg het – om iets vir iemand anders of vir hul gemeenskap te doen wat gelei het na ‘n wonderlike effek van mense wat kinderhuise verf of hondjies en katte gaan was by die DBV om net ‘n paar voorbeelde te gee.
Ons land is wonderlik en so uniek.
Waar anders praat mense van “braai”, “eish”, “lekker” en “ag shame”?
Waar anders proe jy die smaak van biltong, bunny chow, potjiekos en malvapoeding?
Waar anders hoor jy Snotkop of Karen Zoid in die kar op pad skool toe?
Waar anders sien jy sebras en vlakvarkies op pad na jou Super 12-netbalwedstryde?
Oos, Wes, maar tuis is BESLIS bes!