Op julle merke; gereed… Wêreld, hier kom die Ranties!

Elke sport het sy beserings
March 8, 2022
Veels geluk Mnr de Ru!
March 9, 2022

Op julle merke; gereed… Wêreld, hier kom die Ranties!

Geskryf deur: Lienke Olivier

Mnr. De Ru en sy #Sprintscape-groep beplan ‘n toer na Europa vanaf 25 Junie tot 11 Julie. Hierdie is in wonderlike inisiatief van mnr. De Ru om sy atlete die kans te gun om internasionale ondervinding op te doen.

Van die groep se top-atlete werk reeds hard om die toer moontlik te maak.  Hulle sal waarskynlik teen atlete van onder andere België, Frankryk en Nederland deelneem.  Op die oomblik beplan die groep om in Italië te bly en van daar af te reis na byeenkomste regoor Europa.  Hulle word deur Newton Sports Agency gehelp, ‘n professionele sport-agentskap wat van ons land se grootste sporthelde verteenwoordig.

Mnr. De Ru is as afrigter betrokke by die atlete en is die meesterbrein agter hierdie hele opwindende resies, maar hy is nie die enigste beroemde Rantie nie.  Juffrou Richards staan ook slaggereed en wag vir die skoot om te klap, sodat sy kan wegspring en internasionaal gaan deelneem!  Dan is daar nog twee oud-Ranties wat ook saamgaan, naamlik Zanique Swanepoel en Keanu Herbert.

#Sprintscape word tans ondersteun deur sy hoofborg: Protective Force Security.  Die groep benodig egter heelwat meer finansiële ondersteuning om hulle droom te bewaarheid en is dringend op soek na meer borge.  Die groep moet ongeveer R350 000 insamel om alle uitgawes te dek.

Die “Back-a-Buddy“-inisiatief is ‘n ondersteuningsplatform waar mense finansiële bydraes kan maak om die geleentheid vir hierdie supersterre moontlik te maak.  Enige iemand wat belangstel om hierdie atlete se droom te help bewaarheid, kan gerus deel word van die “Back-a-Buddy” deur mnr. De Ru of juf. Richards te kontak.

Rantiesnuus het aan mnr. De Ru en juf. Richards gevra wat hierdie geleentheid vir hulle sal beteken.

Juf. Richards: “Dit was nog altyd my droom om internasionaal deel te neem.  Ek oefen al amper twee jaar by die Sprintscape-groep. Internasionale deelname kan vir my die geleentheid gee om te bewys dat ek een van die land se top 800m vroue-atlete is.”

Mnr. De Ru: “Dit is my droom as afrigter om aan atlete so ‘n geleentheid te gee.  Omdat ek self ‘n paar keer internasionaal deelgeneem het, weet ek watter ongelooflike waarde dit tot ’n atleet se loopbaan kan toevoeg.”

Die Ranties ken van groot drome en die Ranties gee om.

Daarom vra ons:  Ondersteun asb. hierdie geleentheid en maak ‘n atleet se droom waar!

https://www.backabuddy.co.za/sprintscape-european-tour-2022