Wie hou nou nie van die feëverhaal Beauty and the Beast nie? Beslis een van my gunstelinge! Laat ek maar erken, jy kan my enige dag omkoop met ‘n mooi verhaal wat eindig met “and they lived happily ever after”.
Danksy hierdie baie oulike inisiatief van juffrou Bornman en haar bekwame span, bring hulle Beauty and the Beast na eie bodem! Saam met ons pappas, speel ons in ons eie sprokiesverhaal van ‘n onvergeetlike aand.
Met groot opgewondenheid het die Ranties-dogters uitgesien na die Beauty and the Beast “date night” saam met die pappas wat gehou was op beide 17 en 24 April. ‘n Eerste vir Randhart se geskiedenisboeke!
Hier by die Pucjlowski’s, het die voorbereiding sommer vroeg begin, want alhoewel die uitnodiging gesê het “gemaklik informeel”, is ek nou nie eintlik een wat glo jy kan in gemaklik “optof” vir ‘n afspraak nie, veral nie wanneer daai metgesel jou pappa is nie! Dankie tog my broer was nie by die huis toe my “mooimaak-sessie” begin nie, want hy het alewig ongevraagde kommentaar soos “daai rokkie is te kort” of “ek dink dit sit te styf”. Hy is erger as my pa!
Voor ek my oë kon uitvee, toe stop ons voor die deur by Wine Unlimited in Alberanté. Toe Pappa die deur vir my oopmaak, het ek soos ‘n ware prinses gevoel vir wie die rooitapyt uitgerol is.
Elke dogtertjie wat daar was, het pragtig gelyk. Die trotse pappas het omtrent met die mooie dames aan hulle sye gepronk. Die aand was vol bederf vir Pa en dogter. Buiten dat die kos uit die boonste rakke was, het die gasvrouens gesorg vir baie pret, aktiwiteite en hope pryse om te wen. My gunsteling was ‘n oulike vraelys wat Pappa en dogter moes voltooi om te sien hoe goed hulle mekaar ken. Die dogtertjies het natuurlik loshande gewen. Of so dink ek.
Na hierdie baie spesiale aand, stem ek saam met Mamma. Ons onderskat die waarde van ‘n pappa in sy dogter se lewe. Sy vertel altyd van die boek “Bringing up Girls” geskryf deur dr. James Dobson, wie ‘n skrywer van baie Christelike ouerskapboeke en ook die stigter van Focus on the Family is.
Dr. Dobson verduidelik dat ‘n pa se verhouding met sy dogter die belangrikste verhouding is wat sy ooit in haar lewe sal hê en dat dit die basis sal vorm vir toekomstige verhoudinge met die teenoorgestelde geslag. Daarom stem ek vir baie meer sulke spesiale geleenthede saam met ons pappas!
Iets wat my altyd sal bybly van hierdie betowerende aand is toe die pappas die Pappa-belofte aflê en onderteken. Dis was net ekstra spesiaal. Miskien kan elke Rantie-pappa, wat ongelukkig nie hierdie geleentheid kon meemaak nie, ook die belofte vir hulle dogtertjies aflê.
Ek belowe om jou te leer om die moeilike dinge in die lewe eerste te doen.
Ek belowe om die voorbeeld van jou perfekte man te wees.
Ek belowe om ferm grense te stel, maar genoeg ruimte te laat dat jy foute kan maak en daaruit kan leer.
Ek belowe om altyd daar te wees vir jou.
Ek belowe ek sal altyd lief wees vir jou, maak nie saak wat nie…. Jy is my prinses!
Pappa
Rantie-dames en al die dogters daarbuite, kom ons wys altyd vir ons pappas hoe belangrik hulle is deur hulle altyd te waardeer, te respekteer en te eer as die konings van ons huise.
Weereens dankie aan juffrou Bornman en haar span wat hierdie sprokiemooi-aand vir die Rantie-pappas en -dogters moontlik gemaak het.