Besigheid of bobbejaanstreke? Entrepeneurswese of ellende? Rasende sukses of rampspoed?
Die antwoord hierop hang daarvan af of jy in graad 4 is en of jy ‘n onnie is. Wat gr 4’s as goeie besigheid beskou, dryf onderwysers teen die mure uit. Die graad 4’s se wins was die onnies se verlies.
Sommige innoverende graad 4’s het ‘n meelballon-besigheid gestig vir ekstra inkomste. Die graad 7’s het gemeen dit was baie oorspronklik en het gedink die graad 4’s begin solank vir hulself ‘n toekoms skep in entrepeneurswese. Hulle het gedink dit was slim om solank voor te berei vir graad 7 se moeilike EBW wat hulle oor ‘n paar jaar gaan inwag. Maar toe die meelballonne oor die Engelsboeke begin oopbars, was die gort gaar. Kort voor lank het meneer Venter ‘n stokkie in die kontantvloei gesteek en dit was die einde van die florerende saak.
Dis toe dat die graad 7’s ewe onskuldig hulle kaarte op die tafel sit: Met die oog op Entrepreneursdag het hulle oop kaarte gespeel om hulle teikenmark te toets deur handel met Pokemon-kaarte te dryf.
Die hele besigheid het soos ‘n kaartehuis inmekaar getuimel toe meneer Venter weereens die rooilig gegee het en alle handel op die skoolgrond summier gestop het. Die meelballone en Pokemon-kaarte het soos mis voor die son verdwyn….
Maar op ‘n dag het die son weer geskyn toe slim sy baas in die Wiskunde klas gevang het. Juffrou Feuth was so gefrustreerd met die Pokemon-kaarte dat sy die graad 7’s op ‘n slim (of is dit slinkse?) manier gemotiveer het. Vir al die kinders, wat Pokemon-kaarte bo haar wiskundesomme verkies het, het sy ‘n verrassing gehad.
Sy het die dag voor hul wiskundetoets AL die Pokemon-kaarte ingeneem. Sy het vir hulle gesê: “Omdat julle die hele kwartaal hierdie Pokemon-kaarte bo my wiskundesomme verkies, kan julle maar môre julle wiskundepunte ook onder die Pokemon-kaarte kom soek…”
Tot vandag toe weet die graad 7’s steeds nie of dit ‘n motivering was om goed te doen en of dit ‘n aanmoediging was om punte te gaan soek nie… maar een ding is seker: die leerders het almal gaan soek vir die een punt, wat gemaak het dat NIEMAND volpunte kry nie.
Kom ons kyk of die ander grade se slim kinders die antwoord kan kry op die vraag waarmee juffrou Feuth die graad 7’s finaal uitoorlê het:
Ontleed die volgende algebraïse vergelyking:
5x + 3
Gaan kyk miskien of jou punt onder die Pokemon-kaarte lê. Wie weet, miskien gee dit jou ‘n idee of stukkie raad, wat dalk, net dalk, lei tot die regte antwoord.