Geskryf deur: Ellené Anderson 3 min

Raai, raai riepa: Wat is ‘n ietermagog?

’n Ieter watsegoed? ’n Ietermagog!

O wêreld, dit klink vir my skoon na ’n volksvreemde naam.

Maar eintlik is dit net ’n soogdier wat se hele lyf met harde horingskubbe bedek is. Hierdie dier is ook bekend as die Ietermagô en sommige praat selfs van die miervreter.

Het julle geweet dat ’n olifant nie kan spring nie en dat dolfyne name vir mekaar het? Dat honde hul sterte na regs skuif as hulle gelukkig is en na links as hulle hartseer is. Of dat miere nie slaap nie.

Dis die volle waarheid! So ook is ’n ietermagog ’n ou interessante klein diertjie.

Die skubbe, wat sy lyf bedek, is van keratien gemaak. Dieselfde materiaal wat in menslike hare en naels voorkom.

Hulle gebruik dit vir beskerming en as hulle bedreig voel, krul hulle hulleself in ‘n bal op. Nie eens die sterk kake van Koning Leeu kan deur die dop byt nie!

Tweedens spaar die miervreter duisende diererande wat aan die tandarts betaal moet word, aangesien hy geen tande het nie. In plaas van tande het hulle ’n lang tong wat tot 40 cm lank kan wees. Amper net so lank soos een-en-‘n-half liniale. Aan die tong is taai speeksel, net soos gom, wat hulle gebruik om miere mee te versamel vir ete.

Die ietermagog kom hoofsaaklik in Afrika en Asië voor en ’n volwasse ietermagog is ongeveer 100 cm lank en kan tot 18 kg weeg. Omtrent net soveel soos 2 sakke aartappels wat Ma by die winkel koop.

Ongelukkig is die ietermagog besig om ‘n bedreigde spesie te word. Hulle is die mees gesmokkelde soogdiere ter wêreld, gesog vir hulle skubbe. Op hierdie stadium is dit onbekend presies hoeveel ietermagogs daar nog ter wêreld is.

Ek het bietjie ’n draai by Randhart Rakkertjies gaan maak om uit te vind of hulle weet wat ’n ietermagog is. Hier is hulle antwoorde:

Anya Grobler – Vissieklas: “ ‘n Stinkgogga.”

Miané Els – Vissieklas: “ ‘n Slang.”

Wian Olivier – Vissieklas: “ ‘n Gogga wat jy dood druk dan ruik jy ‘poef’.”

Roux van der Berg – Leeutjieklas: “Dis ’n Pangolin. ’n Dier wat miere met sy lang tong eet.’’

Liam Fourie – Pikkewynklas: “Hy grou in die grond dan sit hy sy tong daarbinne, en as die miere op sy tong klim dan bring hy sy tong weer in en dan eet hy hulle. As hy skaam is en die mense wil hom optel dan verander hy dadelik in ’n bal.’’

Piper Marais – Pikkewynklas: “ ’n Mikrogolf.’’

Dian Zietsman – Hasieklas: “ ’n Gogga wat miere eet.”

Giané Delport – Sonneblomklas: “ ’n Dier wat in ‘n bosveld bly. Hy het ’n lang tong en ’n lang stert en kort bene en lang naels en ‘n harde vel.”

Carli Nel – Eendjieklas: “Dis ’n groot, lelike gogga.”

Mila Gomes – Leeutjieklas: “Dis soos ‘n klip wat een en twee en drie stamp teen die muur en dan teen die kas.”

Karli van Zyl: “Ek weet nie. Ek kan hom nie eens sê nie.”

Ja nee. Ons het ’n paar slim Rakkertjies. En vir die van julle wat nie geweet het nie. Glo my, daar is ’n paar mammas en pappas wat ook nie geweet het nie! 

© Kopiereg 2025 #Rantiesnuus. Alle regte voorbehou.