Randhart se skaakperde galop by die Super 12-kompetisie!

Ginger
June 8, 2022
‘n Rantie is…
June 10, 2022

Randhart se skaakperde galop by die Super 12-kompetisie!

Geskryf deur: Stephan Potgieter

Die enigste speletjie waarin Albert Einstein ooit belanggestel het, behels torings en ruiters, konings en dames… en ure se konsentrasie!

Op 7 Mei het Laerskool Randhart se skaakspan al die regte skuiwe by die Super 12-skaakkompetisie gemaak.  Die top skole in Gauteng, Noordwes, Limpopo en Mpumalanga se slimste skaakbreine het hul pionne kom lig by die wêreldklas Sol-Tech-kampus in Pretoria.

Ons Rantie-skaaksterre het vroegoggend met senuwees van staal aangetree. Juffrou Swanepoel en Weinrich het die spelers verras met bederfpakkies terwyl talle Rantie-ondersteuners opgewonde gewag het vir die uitslag van elke ronde.

Ons seniorspan het teen 21 skole meegeding en ’n fantastiese sesde plek behaal, terwyl ons juniorspan ’n sewende plek uit 18 skole behaal het. Adriano Goncalves, Liam Potgieter en Milan Potgieter het as bordwenners uitgeblink en het, na ’n lang dag, toekennings by die prysuitdeling ontvang.

Skaak is die oudste speletjie in die geskiedenis en hou baie voordele in vir spelers.  Dit verbeter konsentrasievermoë en help kinders om te presteer in vakke soos Wiskunde en Wetenskap.  Skaak leer mens ook om die gevolge van jou besluite en optrede deeglik te oorweeg.  Dit stel jou bloot aan verskeie sterk emosies en gee jou die geleentheid om te leer hoe om hierdie emosies te hanteer.

Het jy geweet… Na slegs 3 skuiwe deur elke speler is daar meer as 9 miljoen moontlike posisies op ‘n skaakbord?  Skaak is voorwaar ’n ingewikkelde spel, maar die Rantie-spelers laat dit maklik lyk.

Randhart se skaakspan oefen weekliks om hul skuiwe te vervolmaak en sien daarna uit om hul perde by verdere kompetisies hierdie jaar te laat galop!