Geskryf deur: Ruvan Anderson 4 min

Skaakmat?
Nie vandag nie!

Het jy al ooit soos ’n skaakstuk gevoel wat in ’n hoek vasgekeer is? Jy kyk links – ’n muur. Jy kyk regs – nog ’n muur. Voor jou – die onderwyser se wenkbrou wat lig. Ai tog!

Party dae voel dit asof alles sommer verkeerd loop. Jy trek jou hemp agterstevoor aan, vergeet jou kosblik by die huis, jou hond eet jou huiswerk op (of so sê jy!) en dan verloor jou span nog die rugbywedstryd. Dit kan voel asof die lewe vir jou sê: ‘’Skaakmat!’’

Maar wag ’n bietjie…

In skaak beteken skaakmat dat die koning nie meer kan beweeg nie. Die spel is verby. Gelukkig is die lewe nie ’n skaakbord nie en werk die regte lewe nie so nie. Jy is nie ’n skaakstuk wat vir altyd vasstaan nie en in die lewe is daar byna altyd nog ’n plan, nog ’n kans of iemand wat jou kan help.

So as jy vasgekeer voel:
• Dink eers mooi voordat jy paniekerig raak. Haal diep asem, tel tot tien en dink rustig oor die probleem. Die geheim is om nie sommer moed op te gee nie.

• Vra hulp by jou ma of pa, ‘n juffrou of meneer of selfs by Oupa of Ouma of ‘n vriend. Twee koppe dink dikwels beter as een!

• Lag ‘n bietjie – soms voel probleme sommer kleiner ná ’n glimlag. En almal maak foute. Selfs die slimste mense het al hulle sleutels verloor of hulle selfoon in die yskas gesoek. So leer om soms vir jouself ook te lag.

• Probeer weer. Selfs die beste skaakspelers wen nie elke wedstryd nie!

Onthou, elke fout leer jou iets nuuts. Miskien kry jy nie vandag die antwoord reg nie, maar môre sê jy dalk: “Aha! Nou verstaan ek!”

Die lewe is soos ’n groot avontuur vol verrassings. Party dae voel jy soos ’n kampioen en ander dae voel jy of jy oor jou eie skoenveters struikel. Dit is heeltemal normaal!
Jy hoef nie elke skuif perfek te maak nie. Party skuiwe werk goed en ander leer jou iets nuuts. Wat saak maak, is dat jy aanhou probeer.

So, die volgende keer as dit voel of die lewe vir jou “Skaakmat!” skree, glimlag en antwoord:
"Jammer lewe… nie vandag nie! Ek het nog baie skuiwe oor!” 

© Kopiereg 2025 #Rantiesnuus. Alle regte voorbehou.