Geskryf deur: Liam Potgieter 3 min

Sukses sonder geraas:
Hoe jy groei wanneer jy nie presteer vir applous nie

Stel jou voor jy plant 'n saadjie. Vir 'n lang tyd lyk dit asof niks gebeur nie, maar onder die grond groei die wortels elke dag sterker.

Mense is baie soos saadjies. Die belangrikste groei gebeur nie altyd waar almal dit kan sien nie!

Baie mense dink sukses is wanneer jy 'n medalje ontvang of wanneer mense vir jou hande klap. Ja, dit is lekker om erkenning te kry, maar die belangrikste groei gebeur lank voordat ander dit raaksien.

Dink aan die rugbyspeler wat nog ʼn paar skepskoppe oefen nadat die oefening reeds verby is… of die musikant wat geduldig oefen totdat die note reg klink. Daardie harde werk gebeur sonder enige applous.

By Laerskool Randhart sien ons dit ook in ons Leestjommies-program, waar graad 6-leerders jonger maats met hulle leesvaardighede help, voordat die skooldag begin. Die jong lesertjies oefen gereeld en word stadig maar seker al hoe beter. Daar is nie applous vir elke bladsy wat hulle lees nie, maar met tyd kom sukses — een woord en een storie op 'n slag.

Die bekende vegkunstenaar, Bruce Lee, het gesê: "Die suksesvolle kryger is net 'n gewone mens met buitengewone fokus."

Sukses gaan oor fokus, deursettingsvermoë en die bereidheid om aan te hou groei… sonder enige applous.

Soos die saadjie wat stilweg wortels vorm, bou ons elke dag aan ons toekoms. En wanneer ons uiteindelik die resultate sien, weet ons dat die belangrikste groei nie in die applous lê nie, maar in die stil oomblikke toe niemand gekyk het nie. 

© Kopiereg 2025 #Rantiesnuus. Alle regte voorbehou.