Geskryf deur: Liam Potgieter 2 min

Valentynsdag is vir die dapperes

Die rooi, hartvormige kaartjie op my lessenaar gluur my aan. Sweet vorm druppels op my voorkop. My asem jaag soos ’n stoomtrein. My hart… doef-doef… doef-doef…
Vandag is Valentynsdag, die dag van liefde, maar, soos die meeste seuns, wil ek die hasepad kies.

Ek tel die rooi kaartjie op. My hande bewe en my bene voel soos jellie.
Ek lees:
Rose is rooi, viooltjies is blou
Liza, jy’s mooi, ek wil met jou trou.

Liza? Wie’s Liza? Beslis nie ek nie. Liza is ’n… meisie? Boonop is ek hopeloos te jonk om aan trou te dink.
Ek kyk rond. Hierdie is 'n groot fout. Of is dit ’n grap? Waar is die versteekte kamera? My wange brand, soos roosterkoek op ’n kampvuur. Ek vou die kaartjie vinnig toe en druk dit onder my boeke in.

Die klok lui uiteindelik. Ek gryp my skooltas en hardloop soos ’n skaap wat die slagpale vryspring. Ek gooi die rooi kaartjie in die asblik.
Hartsdinge? Nie vir my nie!
Trou? Beslis nie perdekoop nie
Valentynsdag? Net vir die dapperes!  

© Kopiereg 2025 #Rantiesnuus. Alle regte voorbehou.