Geskryf deur: Liam Potgieter 2 min

Veiligheid is nie vir sissies nie

Baie mense dink veiligheid is iets waaroor jou ma skree wanneer jy by die voordeur uitstap: "Oppas vir die karre!" Eerlikwaar klink dit soms nogal... vervelig.

Maar toe ek nou die dag stap én terselfdertyd ’n baie belangrike WhatsApp tik, tref die harde werklikheid my. En met werklikheid bedoel ek ’n lamppaal! Ek het sterre gesien... en toe besef: veiligheid is baie meer as net ’n klomp reëls om ons uit die moeilikheid te hou. Dit is iets wat deel van ons leefstyl moet wees.

By Laerskool Randhart is daar ’n nuwe reël: Leerders mag nie naby die palisade-omheining speel of met mense deur die heining gesels nie. Hierdie reël mag dalk vir sommige onnodig klink, maar ons weet nooit wat die vreemdeling aan die ander kant van die heining se werklike intensies is nie. Reëls soos hierdie bestaan nie om ons pret te bederf nie, dit is daar om ons veilig te hou.

Daar is nog baie sulke reëls: maak jou veiligheidsgordel vas, dra jou valhelm wanneer jy fietsry, moenie op ’n vreemde internetskakel klik nie... en bêre jou foon wanneer jy oor die straat stap! Hierdie klein gewoontes kan groot ongelukke voorkom.

As jy ooit weer wonder of veiligheidsreëls regtig nodig is, dink maar net aan my ontmoeting met die lamppaal.
Maak veiligheid deel van jou leefstyl… en bly veilig! 

© Kopiereg 2025 #Rantiesnuus. Alle regte voorbehou.