Geskryf deur: Wernich van Niekerk 3 min

Videospeletjies - 
'n vloek of 'n seën?

In vandag se wêreld is videospeletjies amper deel van ons daaglikse lewe. Baie kinders, insluitend myself, speel dit gereeld – soms elke dag. Maar daar is mense wat dink dit is sleg vir ons, soos my ma, wat glo ek speel te veel!

Ek dink videospeletjies kan beide 'n vloek en 'n seën wees, afhangend van hoe jy dit gebruik.

Aan die positiewe kant kan speletjies jou help om jou hand-oog-koördinasie te verbeter. Jy moet vinnig beweeg en reageer en dit help jou om skerper en vinniger te dink. Sommige speletjies, soos Minecraft, laat jou toe om kreatief te wees en jou eie wêreld te bou. Dis ’n goeie manier om jou verbeelding te gebruik en nuwe idees te probeer.

Maar daar is ook 'n donker kant. As jy te veel tyd voor 'n skerm spandeer, kan jy maklik begin agter raak met jou skoolwerk. Ek het al self gesukkel om my huiswerk betyds klaar te kry, omdat ek eerder wou speel. Soms vergeet ek ook om buite te gaan speel of selfs om net te beweeg en dan voel ek lui.

Nog iets om oor te dink, is die inhoud van sekere speletjies. Party speletjies het baie geweld in. Ek dink dit kan die manier waarop mense dink en optree beïnvloed – veral jong kinders.

Uiteindelik gaan dit alles oor balans. As jy jou tyd reg bestuur en speletjies met goeie inhoud kies, kan dit iets wees wat jou slim en selfs kreatief maak. Maar as jy nie grense stel nie, kan dit jou negatief beïnvloed.

So, speel lekker – maar speel slim! 

© Kopiereg 2025 #Rantiesnuus. Alle regte voorbehou.