Geskryf deur: Ruvan Anderson 4 min

Wanneer foute leermeesters word

Dit is alweer toetstyd… oftewel daardie tyd van die jaar wanneer almal ewe skielik “baie dors’’ raak net om water te gaan drink in plaas van leer.

Dis ook die tyd wanneer jou skooltas soos ’n sak bakstene voel, jou potlood elke tweede minuut breek en jou brein besluit:
“Ek is nou amptelik met vakansie. Sterkte verder.”

Ons almal mik vir daardie 100% in ons toetse. Tog langs die pad maak ons foute.

Maar raai wat? Al die foute wat ons maak, is nie verniet nie. Daardie foute is soos gratis ekstra klasse… net sonder die lekker deel.

Ek het geleer dat:
• As jy nie leer nie, leer jy baie vinnig hoe dit voel om in ’n stil klas te sweet.
• As jy alles uitstel, word jou skoolwerk vinniger as ’n rugbyspeler op energiedrankies.
• As jy die vraag nie mooi lees nie, antwoord jy ’’Ja’’ op ’n vraag wat vra “Hoekom?’’
• En as jy sê: “Ek sal môre leer,” kom môre met nóg huiswerk aan.

Maar elke fout leer jou iets. Selfs daardie toets met die groot rooi sirkel wat soos ’n stopteken lyk.

Hoe kan jy jou foute slim gebruik?
• Kyk weer na jou vorige toetse en take. Daardie rooi pen wys eintlik presies waar jou brein ’n bietjie gaan slaap het.
• Oefen die moeilike werk, nie net die dele wat jou soos ’n professor laat voel nie.
• Vra vrae as jy sukkel. Selfs slim mense Google soms hoe om iets makliks te doen.

’n Paar praktiese wenke vir eksamensukses
• Begin vroeg leer.
Vyf minute per dag is beter as vyf ure die dag voor die toets.

• Eet gesond.
Jou brein kan nie op skyfies en koeldrank oorleef nie.

• Beweeg jou lyf.
’n Bietjie oefening help jou brein wakker bly.

• Kry genoeg slaap.
Want ’n moeë brein onthou niks, nie eens sy eie naam nie.

Aan die einde van die dag beteken foute nie jy is dom nie – dit beteken net jy leer. Soms leer ons die beste wanneer dinge eers ‘n bietjie skeefloop.

Sterkte met die laaste bietjie van die toetsreeks… en mag jou potlood hierdie keer oorleef! 

© Kopiereg 2025 #Rantiesnuus. Alle regte voorbehou.