Geskryf deur: Liam Potgieter 4 min

Wat maak van jou ‘n man?

Gee my ‘n man wat sê wat waar is
As die duiwel daar is
Wat doen wat reg is,
As die regter weg is;
Wat trou by sy gewete bly,
As hy straf in plaas van beloning kry.


Hierdie woorde is lank gelede geskryf, maar Langenhoven praat vandag nog met ons deur sy gedig.
Baie mense dink ‘n man is iemand wat sterk is, nooit huil nie en altyd wen.
Sommige mense dink ‘n ware man is iemand met geld, spiere en status.
Maar as ons mooi na Langenhoven se woorde luister, besef mens dat die eienskappe van ‘n goeie man veel dieper is.

Wat sê wat waar is, as die duiwel daar is…
‘n Ware man is iemand wat die waarheid praat, selfs wanneer dit moeilik is. Dit verg moed om eerlik te bly in ‘n wêreld waar die waarheid maklik verdraai word. ‘n Goeie man praat die waarheid, selfs wanneer dit hom ongewild maak.

Wat doen wat reg is, as die regter weg is
Baie mense doen net die regte ding, omdat hulle bang is om uitgevang te word. Maar ‘n ware man doen wat reg is, selfs wanneer niemand kyk nie. Nie omdat hy moet nie, maar omdat hy wil.

Wat trou by sy gewete bly…
Jou gewete is daardie stemmetjie binne jou wat sê: dis reg of dis verkeerd. ‘n Man luister na daardie stem, selfs wanneer dit moeilik is. Hy volg nie net die skare nie, hy hou by sy waardes.

….as hy straf in plaas van beloning kry
Die regte ding word nie altyd beloon nie. Soms lag mense vir jou, soms verloor jy iets, soms voel dit onregvergdig. ‘n Man doen steeds wat reg is, al kos dit hom dalk iets.

Miskien is dit hoekom ‘n mens nie een oggend wakker word en skielik ‘n man is nie.
Jy word ‘n man – elke dag – deur die keuses wat jy maak.

Ek dink dit is presies wat Langenhoven vir ons wou sê. 

© Kopiereg 2025 #Rantiesnuus. Alle regte voorbehou.