Geskryf deur: Lienke Olivier 3 min

Wat Bybelvasvra my geleer het

Almal in Rantie-land weet presies hoe juffrou Van As oor Bybelvasvra voel. Die twee is al sinonieme. Almal weet dat jy nie met ander aktiwiteite kom inmeng in Bybelvasvratyd nie. Maar wat almal dalk nié weet nie, is van die wonderwêreld van kameraadskap en kennis wat vir jou oopgaan as jy deel word van juffrou Van As se Bybelvasvraspan.

Bybelvasvra oor die afgelope twee jaar het my die volgende geleer:

• Enige iemand kan die moeilikste stuk werk in sy kop kry as hy dit oor en oor herhaal.

• Joab het vir sy broer Abisai gesê: “As die Arameërs vir jou te sterk is, moet jy my kom help, en as die Ammoniete vir jou te sterk is, sal ek jou kom help.” Net so het ons spanmaats mekaar gehelp: waar die een swak was, was die ander sterk. Ons kon op mekaar vertrou, nie net met die werk nie, maar ook met ons harte.

• Van vertroue gepraat: vertrou jou spanmaats, vertrou jou juffrou, vertrou jouself; en bo alles: vertrou op die Here.

• Bybelvasvrakinders is nie bang vir die donker nie – op Maandae oefen ons soms tot na donker by die skool! En by die huis leer ons tot donkernag aan 2 Samuel.

• Bybelvasvrakinders is wel bang vir ‘n middagslapie, want dit het tot Is-Boset se dood gelei… Buitendien, as jy Bybelvasvra moet leer, is ‘n middagslapie nie vir jou beskore nie.

• Maar daar is wel tyd vir pret: trampolien spring, swem, lekker lag en keramiek-kuns.

• Ons het geleer dat, net soos Dawid, ons ook maar skuldig en vol sonde is, maar, net soos vir Dawid, is die Here se genade altyd vir ons genoeg.

• Ons het geleer dat “as ons wysheid kortkom, ons dit van God moet bid, en Hy sal dit gee sonder voorbehoud en sonder verwyt”. Ons het beslis leer bid en volhard soos Jakobus ons leer.

• Ons het ook by Jakobus geleer om ons tong in toom te hou!

• Ons het geleer van Petrus se passie en sy hartseer en spyt toe die haan kraai.

• Ons het geleer wie Urija, Hadad-Eser, Abjatar en Agitofel, Salome, Klein-Jakobus en nog baie ander is. (En natuurlik wie Marmite is, maar van hom sal julle slegs kan weet as julle al Bybelvasvra in juffrou Van As se lapa gedoen het…)

• Ons het van die vriendskap van Dawid en Jonatan geleer.

• Ons het geleer dat die Here ryk aan barmhartigheid en ontferming is.

• Ons het geleer dat Jesus gekruisig is, opgestaan het en ons uitstuur.

Ons Bybelvasvrareis het tot ‘n einde vir 2022 gekom, maar ons is gestuurdes wat met dit wat ons hierdie jaar geleer het, Jesus se liefde moet gaan uitleef. Vir baie van die Ranties is die Bybelvasvrareis nog nie klaar nie. Dit moet nog begin… 

© Kopiereg 2025 #Rantiesnuus. Alle regte voorbehou.