Het jy al voor die klas gepraat en gesien hoe iemand agter in die klas begin teken op sy hand of by die venster uitkyk? Dis omdat jy hulle nog nie behoorlik oortuig het nie!
Volg hierdie wenke deur Tionette Chester van Figment School of Dramatic Arts en jy hou sommer die hele gehoor se aandag vas.
1. Praat duidelik en speel met jou stem
As jy so sag praat dat dit soos ’n geheime fluistering in die mediasentrum klink, gaan niemand luister nie. Moenie net hard praat nie – wissel jou stem! Jou belangrikste punte moet duidelik en anders klink as die res van jou toespraak.
2. Vertel stories wat emosies roer
Stories hou mense se aandag vas soos roomys op ’n warm dag.
Vertel iets snaaks of interessant wat jy self ervaar het en meng dit met emosie.
3. Gebruik feite wat jou punt sterker maak
As jy slim klink en kan wys jy het jou werk gedoen, sal mense jou glo. ’n Paar goeie feite, gemeng met jou stories en emosies, maak jou motivering sterker.
4. Liggaamstaal en oogkontak
Woorde alleen is nie genoeg nie. Jou houding, gebare en oogkontak dra by tot die oortuiging. Staan regop, gebruik jou hande (sonder om te lyk soos ’n windmeul) en kyk jou gehoor in die oë – nie bo hul koppe nie.
5. Gebruik jou kaartjies
Handbewegings en notas is subtiele maniere om jou punt nog sterker oor te dra.
Die geheime resep vir ’n goeie redenaar is selfvertroue, stories, feite, emosie en ’n bietjie drama met jou stem en liggaamstaal.
Dan luister almal sommer soos kinders wat wag dat die pouseklok lui!